Die Helderberg-gemeenskap ly die verlies van twee tienerseuns wat in twee afsonderlike voorvalle vermoor is.

Verskaf

Die Helderberg-gemeenskap steier weens skok nadat twee tienerseuns in twee afsonderlike voorvalle wreed vermoor is.

Die lewelose liggaam van ’n 17-jarige is Sondag (31 Julie) in Broadlandspark aangetref terwyl ’n 19-jarige Saterdag (30 Julie) in Sir Lowry’s Pass doodgesteek is (verwys na berig, “Three nabbed for teen’s murder,” DistrictMail & Helderberg, Wednesday 3 August).

Vandeesweek se gruvonds volg nadat die tienerslagoffer na bewering deur twee verdagtes met ’n mes en ’n byl aangeval is en sy lyk op ’n ander plek gestort is.

Die afgryslike moord het vermoedelik Sondag in die vroeë oggendure plaasgevind en Byron Gouws se lyk is omstreeks 06:24 deur owerhede gevind.

Volgens die Strand-polisiewoordvoerder adjudant-offisier Nico Beukes het ’n bakleiery vermoedelik tussen die slagoffer en die verdagtes – 23 en 26 – uitgebreek toe hy doodgemaak is. Gouws se lyk is ná die moord na ’n verbyloop-paadjie aan die agterkant van Petuniastraat naby die begraafplaas verskuif, waar hy met ’n steekwond onder die hartaangetref is.

Die twee verdagtes is intussen opgespoor en op aanklag van moord in hegtenis geneem. Hulle het Dinsdag (2 Augustus) die eerste keer in die Strand-landdroshof verskyn. Die uitkoms van die hofverskyning was teen druktyd gisteroggend steeds onbekend.

Die wrede moorde was skaars twee maande nadat die 18-jarige Angelo Matroos Woensdag 18 Mei in ’n noodlottige skietvoorval in Petuniastraat dood is, en die 33-jarige Abdullah Daggia se mesmoord later dieselfde dag in die Rusthof-woonbuurt afgespeel het. Dié twee moorde het skokgolwe deur die gemeenskappe gestuur (“Geen borgtog vir drie beskuldigdes,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 1 Junie).

Zorah Motasi, ’n Strand-gemeenskapsaktivis en voorsitter van die Vroue in Aksie-beweging, het haar medelye aan die Gouws-familie op sosiale media uitgespreek. “Mag God julle versterk en vertroos gedurende die moeilike tyd. Geen ouer moet so iets deurmaak nie,” het Motasi meegedeel.

Beukes het bevestig die moord op Gouws was nie ’n bendeverwante voorval nie. “In dié stadium kan ons geen addisionele inligting verskaf nie – juis omdat die ondersoek in ’n sensitiewe stadium is.” 

  • DistriksPos & Helderberg Gazette kon teen druktyd nog nie met Gouws se bedroefde ouers kontak maak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article