Twee van die stropers is gearresteer en het al in die Strand-magistraatshof verskyn vir stropery. Foto:

Credit: SYSTEM

Danksy die spoedige reaksie van die Strand-buurtwag, veiligheids-beamptes, ’n inwoner met ’n skerp oog en lede van die polisie en wetstoepassing, is drie vermeende stropers in Strand vasgetrek.

Volgens Philip Versfeld van Strand-buurtwag het iemand uit ’n woonstelblok op Kusweg oorkant die hoofstrand gesien hoe stropers hul perlemoen en alikreukel in die see agter rotse versteek. Die inwoner het die wetstoepassers gebel, wat op hul beurt Strand-buurtwag gekontak het om lede na die gebied te stuur en die vermeende stropers dop te hou.

“Strand-buurtwag se lede was in ’n ongemerkte voertuig, wat gehelp het dat die stropers hulle nie sien nie. As ons met ’n gemerkte voertuig opdaag, kies die stropers gewoonlik die hasepad.”

Volgens Versfeld het twee van Strand-buurtwag se lede die duikers dopgehou en toe hulle aan wal kom, het die buurtwag en lede van Gordonsbaai-sekuriteit hulle aangekeer.

Die inwoner met die valkoog kon uit die woonstelblok sien waar die stropers hul perlemoen en alikreukels in ’n sak vasgebind en agter rotse versteek het. ’n Wetstoepassingsbeampte het die see ingegaan en ’n sak uitgebring waarin die perlemoen en alikreukels was. Die stropers se duiktoerusting en toerusting waarmee hul gestroop het, is afgeneem.

AO Nico Beukes, woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig twee verdagtes is vir stropery in hegtenis geneem en het al in die Strand-landdroshof verskyn.

Die verdagtes, onderskeidelik 32 en 35 jaar oud, is inwoners van Strand. Beukes het bygevoeg albei vermeende stropers is bekend vir hul stropery en het al met die gereg gebots.

“Ons bedank die inwoner wat die wetstoepassers ingelig het van die moontlike stropery wat aan die gebeur was. Dit was werklik ’n gesamentlike poging,” sluit Versfeld af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article