Twee pa’s en elkeen se kinders het die voorreg om by die Somerset-Wes-polisiekantoor saam te werk.
Adjudant-offisier Francois Visser en sy dogter, konstabel Nicole Visser (31), asook adjudant-offisier Nolan Fisher en sy seun, konstabel Aiden Januarie (23), het onlangs saam as polisiebeamptes begin werk.
AO Visser en konstabels Visser en Januarie werk saam aan die Vispol- kant van die polisie terwyl AO Fisher by die speurtak betrokke is.
Maar hoe is dit om saam met jou pa by die polisiekantoor te werk en vir ’n pa om misdaad saam met sy kind te bestry? “ ’n Mens moet ’n voorbeeld vir jou kind wees,” sê AO Visser. “Ek is trots dat my kind in my spore volg om ook in die polisie te wees.”
AO Fisher vertel op sy beurt hoe ’n trotse gevoel dit is om sy seun by “hul” polisiekantoor te sien.
Maar AO Fisher sowel as AO Visser is van mening dat polisiewerk ’n roeping is en hul kinders die keuse om aan te sluit by die polisiediens op hul eie geneem het.
“Ons werk nie net hier om betaal te word nie, al verdien ons min. Dis ’n roeping. Hierdie werk het groot uitdagings. Ek het juis vir Aiden laat weet dit is sy besluit [om by die polisie aan te sluit]. Hy het ’n voltydse werk by die wetstoepassers gehad en hy moes toe op sy eie besluit om by die polisie aan te sluit,” sê AO Fisher.
AO Visser is ook van mening dat hy nie sy dogter gedruk het om by die polisie aan te sluit nie – dis iets wat konstabel Visser self wou doen, want sy probeer al die afgelope 10 jaar om by die polisie in te kom.
“Ek glo in geloof soos ’n mosterdsaad. Ek het aanhou probeer om by die polisie in te kom. Ek het in 2020 saam met konstabel Januarie aansoek gedoen asook my fiksheidstoetse by die polisie gedoen, maar toe begin die Covid-19-inperking en ry als in die wiele,” vertel sy.
Maar konst. Visser was vasbeslote om by die polisie aan te sluit en haar droom is uiteindelik bewaarheid.
Dis vir haar elke dag lekker om by haar pa te leer en sy sien uit om nog verder in die polisie te groei.
Konst. Januarie werk nie elke dag saam met sy pa by die polisiekantoor nie, want hy is meer in die ondersoekende kant en ek in die Vispol-kant. “Maar ek leer baie by my pa. Dis vir my lekker om saam met AO Visser ook te werk, en by hom leer ek net so baie. Dis vir my lekker om by die Somerset-Wes-polisiekantoor te werk, want dis naby my huis en die beamptes hier ken my al jare as “Klein Fisher”, en nou het ek die geleentheid om saam met hulle te werk.”
Al geniet hy dit om in Vispol te werk, wil konst. Januarie eendag ook ’n speurder word en oor “baie jare” ’n kolonel wees.




