Johanna Fritz, wie se seun Brancoulin doodgeskiet is. Foto: Rick Marais


Twee minderjarige verdagtes wat in verband met die moord op Clinton Batties in hegtenis geneem is, is albei op R500-borgtog elk vrygelaat terwyl die minderjarige verdagte in die Brancoulin Fritz-moordsaak se borgtog-verhoor Maandag tot Donderdag (15 September) uitgestel is.

Batties is op 28 Augustus in Broadlandspark doodgeskiet. Die 22-jarige ma, Gwendoline, het kort nadat haar seun geskiet is op hom afgekom en hom vasgehou en getroos tot sy laaste asem (“Nog ’n jong lewe van Broadlandspark geëis,” Distrikspos & Helderberg Gazette, Woensdag 7 September). Die Batties-saak is tot Donderdag 3 November uitgestel.

Fritz, ’n belowende rugbyspeler van die St. George’s-rugbyklub, is op Saterdag 18 Junie by ’n partytjie in die bors gewond en het met sy aankoms by die hospitaal beswyk (“Ek steier oor my seun se dood,” Distrikspos & Helderberg Gazette, Woensdag 22 Junie).

Fritz se ma, Johanna was Maandag die hele dag by die Strand-landdroshof in die hoop dat haar seun se vermeende moordenaar nie borgtog sou kry nie. Sy is moedeloos huis toe nadat die saak nog ’n keer uitgestel is.

Die 17-jarige verdagte in die Fritz-saak word tans in ’n plek van veilige bewaring gehou totdat die hofsaak afgehandel is. Hy word deur ’n vertroulike informant beskryf as iemand met ’n donker verlede en het ook ander sake teen hom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article