Skaars twee dae voor sy twintigste verjaarsdag het ’n jongman van Strand sy lewe in ’n tragiese steek-voorval verloor.
Elton Domingo (19) van Rusthof het volgens die Strand-polisie die afgelope Saterdagaand (27 Januarie) by ’n partytjie in Sewendestraat teen omstreeks 23:30 in ’n stryery met ’n 19-jarige-man betrokke geraak.
“Die verdagte het toe die partytjie verlaat en glo buite vir Domingo gewag. Hy is een keer in die bors gesteek, waarna hy huis toe is, op sy bed gaan lê en later as gevolg van die steekwond dood is,” het AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, gesê.
Die verdagte is kort ná die steek-voorval in hegtenis geneem.
Kelly Davids, Elton se ma se suster, wat hom grootgemaak het, het aan DistriksPos & Helderberg Gazette bevestig Elton sou Maandag (29 Januarie) sy twintigste verjaarsdag vier.
“Ons weet wat gebeur het. Ons was die aand onbewus dat Elton gesteek is. Ons het net geweet hy het gaan lê. Kort daarna het ons besef hy is dood nadat hy nie wou bykom nie,” het ’n hartseer Davids gesê.
In ’n afsonderlike steekvoorval vroeër dieselfde dag is ’n 33-jarige man van Broadlandspark ook dood nadat hy glo deur sy vrou gesteek is.
Beukes het bevestig dat die voorval teen omstreeks 17:00 in Finkstraat gebeur het toe Jacques Olivier en sy vrou (38) in ’n stryery betrokke was.
“Hy is glo in die bors gesteek waarna hy na die Helderberg-hospitaal gehaas is en later oorlede is aan die steekwond,” voeg hy by. Die polisie het die verdagte ná die voorval aangekeer.
Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum het sy misnoeë teenoor die oorledenes se families uitgespreek. “In die steekgeval tussen die twee mense wat saamgebly het is daar glo ’n geskiedenis van aanranding,” het Thysen uitgebrei.
Gadija Wantza, suster van Jacques Olivier, bevestig die familie was nie bewus van die tipe geskiedenis nie.
“Die twee was amper ’n jaar lank getroud. Ons het te ver uitmekaar gebly om te weet wat werklik aangegaan het by hul huis. Ons kan net praat oor watter soort mens Jacques was en hy was ’n mense-mens wat geliefd was deur baie mense. Hy was baie lief vir sy 12-jarige dogter,” sê sy.
Olivier is Maandag (29 Januarie) by die Strand-begraafplaas ter ruste gelê.
Nog geen reëlings is getref vir Domingo se begrafnis nie en die familie sal die inligting deel sodra hulle alles in plek het.



