Owerhede op die toneel waar ’n motor vroeër vanoggend (Sondag 27 Augustus) in Kusweg, Strand, in vlamme uitgebars het. Die voorval het in ’n parkeerterrein oorkant die munisipale swembad afgespeel en ’n Volkswagen Polo van binne uitgebrand. Foto’s: J’andre Conradie


Twee jong kinders is met ernstige brandwonde gehospitaliseer nadat ’n stilstaande motor vanoggend (Sondag 27 Augustus) in vlamme uitgebars het.

Die voorval het kort ná 09:00 in ’n parkeerterrein oorkant die munisipale swembad in Kusweg, Strand, afgespeel en ’n blou Volkswagen Polo is van binne verswelg. Daar word beweer dat die voertuig aan die brand geslaan het terwyl die kleuters glo alleen in die motor was terwyl hul ma glo gou ‘n winkel besoek het.

Die sussie-en-boetie-paartjie is deur omstanders wat op die toneel afgekom het en instinktief kragte saamgespan het uit die brandende voertuig gered.

Brandweer-en-reddingsdienste, private sekuriteitsmaatskappye insluitend Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.), plaaslike buurtwaglede en die polisie was onder diegene wat op die voorval gereageer het.

’n Wetstoepassingsduo wat ten tyde van die voorval in Kusweg na ’n voertuig-kontrolepunt in Macassar onderweg was, was deel van die skare wat met sukses die sibbe te hulp gesnel het.

Vernon Elias en Cynthia Mlanjeni herroep dat hulle omstreeks 09:30 op die toneel afgekom en onmiddellik stilgehou het om bystand te verleen aan ander omstanders wat reeds met ’n reddingsaksie begin het.

“Die voertuig se vensters is uitgebreek om die tweejarige seuntjie en vierjarige dogtertjie uit die voertuig te bevry. Ek moes die meisie uit die motor help. Haar haartjies het aan die motor se dak vasgesit en ek is gedwing om haar kop los te trek om haar na veiligheid te bring. Sy het vreeslik gegil,” het Elias herroep.

“Dit was ’n baie emosionele toneel. As pa van twee kinders spook die gedagte by jou dat dit enige ouer se nagmerrie kon wees.”

Hendrik van Heerden, ’n Afriforum Strand-patrollielid, het sy dankbaarheid uitgespreek vir almal se flink optrede wat die reddingspoging se sukses verseker het. Volgens hom het hy en medelede teen 09:40 op ’n noodoproep op WhatsApp gereageer oor ’n voertuig wat brand.

“Met ons aankoms was die kinders reeds uit die voertuig gered. Paramedici was ook op die toneel en besig om mediese aandag aan die sibbe te skenk. Dit terwyl ’n geskokte en sigbaar getraumatiseerde ma en ’n familielid hulpeloos toegekyk het. Die kinders het ernstige brandwonde opgedoen en dít is duidelik aan die voertuig se skade,” het hy gesê.

“Ons is uiters dankbaar vir die bystanders wat gereageer het, veral die persoon wat ’n brandblusser byderhand gehad en vinnig die brand geblus het.”

Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, het bevestig dat brandbestryders om 09:45 op die voorval gereageer het. Met hul aankoms het die brandweerspanne van Strand ook gevind dat die brand reeds geblus is en dat wetstoepassers en ambulansdienste op die toneel was.

Volgens Heyns de Waal, hoofbedryfsbeampte van GBSek., het die kinders tweedegraadse brandwonde opgedoen en het GB Med Rescue-paramedici met bystand van ER24 gevorderde lewensondersteuning aan die slagoffers voorsien. Die kinders is per ambulans na die Rooikruis-kinderhospitaal vervoer en paramedici is onderweg deur metro-nooddienste se pediatrie-eenheid ontmoet vir verdere bystand.

Carelse het bevestig dat die omstandighede rondom die voorval nog onbekend is.

Die Strand-polisie het bevestig dat geen misdaad vermoed word nie en dat die brand moontlik weens ’n meganiese fout ontstaan het.

Die sibbe het erge brandwonde opgedoen en is op die toneel deur paramedici behandel voordat hulle na die Rooikruis-kinderhospitaal vervoer is.

Bystanders het die motor se vensters gebreek om die minderjarige brandslagoffers te bevry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article