Twee mans is verlede Sondag (9 Oktober) geskiet terwyl hulle in buite ’n woning in ’n motor gesit in Rusthof gesit het.
Die skietvoorval, wat omstreeks 23:30 op die hoek van Mbadurylaan en Agtstestraat plaasgevind het, is volgens die polisie nie bendeverwant nie.
Malcolm Alloys (26) en Devon Happie (25) is albei tydens die skietvoorval gewond en in ’n private motor na ’n hospitaal vir mediesebehandeling vervoer.
Volgens AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, is ’n saak van poging tot moord weens die skietvoorval geopen. Hy kon nie bevestig wat tot die skietery gelei het nie, maar het bevestig twee patroondoppies is op die toneel gevind.
Malcolm se tannie, Anda, het wel bevestig hy is weer tuis nadat hy vir sy skietwonde behandel is.
“Volgens gerugte wou die skieters nie vir Malcolm skiet nie, maar het Devon geteiken, en toe word albei raakgeskiet,” he Anda gesê.
“Hulle het net in die motor gesit en bier drink toe die skote geklap het.”
’n Vriend na aan Devon het bevestig dat hy ook ná mediese behandeling uit die hospitaal ontslaan is en tans by die huis aansterk. Hy kon nie uitbrei oor die redes waarom die twee geteiken is nie.
Die Strand-polisie het bevestig geen verdagtes is nog weens die skietvoorval in hegtenis geneem nie.




