Ten spyte van ’n val uit die lug is twee mense slegs lig beseer nadat hul vliegtuig Saterdagoggend (8 Junie) op ’n aarbeiplaas naby Stellenbosch se vliegveld, langs die R44, neergestort het.
Die twee, ’n vlieënier en een passasier, was in ’n Jabiru J160-vliegtuig toe hulle die naweek van die Stellenbosch-vliegveld af opgestyg het. Die vliegtuig het van aanloopbaan 01 opgestyg, maar kort nadat dit in die lug was op ’n aarbeiplaas net langs die R44 neergestort.
Die private vliegtuig was glo na die Caledon-vliegveld onderweg toe die vliegtuig se enjin vermoedelik krag begin verloor het.
LEES: Afgetredene sterf toe vliegtuig val
Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) het by navraag gesê ’n ondersoek na wat presies fout geloop het, is van stapel gestuur. Volgens die BLO sal sy afdeling vir ondersoeke na ongelukke en voorvalle (AIID) die ondersoek behartig. “Ondersoekbeamptes is in ooreenstemming met die AIID-prosedures nie na die terrein gestuur nie, en net ’n rekenaarondersoek word tans gedoen. Dit beteken die AIID sal besluit of hy met ’n diepte-ondersoek na die omstandighede van hierdie ongeluk sal voortgaan of nie.
“Dié besluit sal bepaal word deur die insameling en ontleding van die aanvanklike inligting sowel as die veiligheidskwessies wat deur hierdie proses geïdentifiseer is,” het die BLO verduidelik.
LEES: Vlieënier van Gordonsbaai se lewe gevier
Volgens die Aviation Safety Network, ’n databank waar inligting oor vliegongelukke gedeel word, is die Jabiru J160 afgeskryf.



