Die Strand-polisie doen ’n beroep op die gemeenskap vir inligting in verband met twee skietvoorvalle waarin twee mense gewond is.

Die eerste het Sondag (23 Januarie) in Serkorpark plaasgevind toe ’n 30-jarige man op die hoek van Suraya- en Adelastraat geteiken is.

Luidens ’n polisieverslag is die inwoner van Broadlandpark om 21:10 deur ’n man, wat aan hom bekend is, genader. Die man het ’n vuurwapen uitgepluk en verskeie skote in die slagoffer se rigting afgevuur.

“Die slagoffer het daarin geslaag om van sy skieter af te ontsnap en voor ’n woning in Surayastraat inmekaargesak,” lui die verslag. “Die slagoffer is met ’n skietwond in die rug na die hospitaal vervoer.”

Die polisie het beslag gelê op ’n leë 9 mm-magasyn (kapasiteit 15 rondtes) en vier 9 mm-patroondoppies wat op die toneel gevind is.

Die tweede voorval het Dinsdag (25 Januarie) in die vroeë oggendure in Arendstraat afgespeel.

“Die slagoffer was om 02:10 op pad huis toe toe hy ’n man in die straat teëgekom het wat net ’n vuurwapen uitgehaal en hom in sy regterbobeen geskiet het.

“Die slagoffer is per ambulans na die hospitaal vervoer.

“Die skieter het van die toneel af gevlug,” het ’n polisieverslag onthul.

Die polisie ondersoek twee klagtes van poging tot moord en enigiemand met inligting word gevra om lt.kol Franklin Plaatjies by 082 469 3359 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article