’n Brand het verlede Vrydag (26 Mei) twee gesinne in Rusthof dakloos gelaat.
Die brand, wat omstreeks 11:00 in Mbadu-rylaan uitgebreek het, het so vinnig versprei dat Shireen Stuurman (42) se buurvrou Rachel Cyster se man en dié se drie kinders vlamme gesien en net-net betyds weggekom het.
Stuurman en haar vyf kinders was ten tyde van die brand nie tuis nie, maar toe sy die tyding ontvang, kon sy nie glo dat sy en haar gesin al hul besittings verloor het nie.
Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, het bevestig die oorsaak van die brand is steeds onbekend.
“Twee informele strukture asook al hul inhoud is in die brand vernietig.
“Drie brandweerwaens en ’n reddingsvoertuig is net voor 11:30 uitgestuur en het teen 11:33 op die toneel aangekom.
“Brandweerspanne van Strand, Somerset-Wes asook Sir Lowry’s Pass het opgedaag,” vertel Carelse.
Toe Stuurman by haar huis aankom was alles weg.
“Ons het klere en sulke goeters gekry. Ek en my kinders is werklik dankbaar vir al die hulp, maar ons benodig nog matrasse want tans slaap ons op die grond by my ma se huis,” sê Stuurman.
Sy woon al die afgelope agt jaar in die huis saam haar 23-jarige seun en haar 20-jarige dogter en haar ander drie kinders van onderskeidelik 13, 15 en 17.
“Ek dink nie ek en my gesin sal weer hier wil herbou nie. Die brand het my te veel geskok. Ons gaan maar aanbeweeg en vir ons ’n nuwe blyplek soek,” voeg sy by.
Stuurman wou die geleentheid gebruik om ieder en elkeen te bedank wat haar so ver al gehelp het.
“My buurmense en almal in die straat het gehelp en vir ons gesorg. Ons wil elkeen uit ons hart bedank,” sluit sy af.
Indien enige onderneming of private individue die gesin met matrasse en beddens kan help bel Shireen Stuurman op 071 756 5196.



