Brandbestryders is die afgelope Donderdag (18 Januarie) vir twee afsonderlike brande tot aksie geroep.
Volgens Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het brandweerspanne teen omstreeks 11:30 op die eerste brand, wat in die omgewing van die uitkykpunt op Sir Lowryspas ontstaan het, gereageer. “Agt brandbestrydingshulpbronne insluitend personeel is na die toneel gestuur. Die voorval-bestuurspan is geaktiveer en het die Stad se biodiversiteitsafdeling, wat die brand deur die nag help bestry het, bygestaan,” sê Carelse.
JP Smith, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het die voorval, wat die Stad se waterinfrastruktuur in gevaar stel en soos sabotasie of brandstigting voorkom, veroordeel.
“Ons stad is onder beleg. Die brandweer het die brand naby aan die waterbehandelingswerke in Gordonsbaai gaan bestry. Die spanne het reg deur die nag gewerk om die brand in bedwang te bring,” sê Smith.
“Opsetlike beskadiging van kritieke infrastruktuur kan met tot 20 jaar in die tronk gestraf word.
“Die Stad bied ’n beloning aan vir inligting oor die brand by die Steenbras-aanleg. Enigeen met inligting kan die Stad Kaapstad se noodkommunikasiesentrum by 021 480 7700 skakel.”
In ’n onverwante brand teen 14:45 op dieselfde dag het ’n Volkswagen Kombi in Southfork uitgebrand.
“Die brandweerspan van Macassar was op die toneel en die brand is teen 15:11 geblus. Geen beserings is aangemeld nie en die oorsaak van die brand is nog onbekend,” sê Carelse.



