Solidariteit Helpende Hand het verlede week sy tuisversorgings-opleidingsprogram uitgebrei – van twee studiesentrums met 18 studente in 2021 tot vyf studiesentrums met 50 studente in 2022.
Die opleiding het in Somerset-Wes, Pretoria, Krugersdorp, Bloemfontein en Port Elizabeth begin. Volgens die projekorganiseerder, Benette Welman, het ’n behoefte aan hierdie opleiding ontstaan as gevolg van soveel ouer mense wat verkies om by hul huise in plaas van by vreemde versorgingsinstansies versorg te word.
“Solidariteit Helpende Hand het die afgelope paar jaar ’n dringende behoefte aan tuisversorgers identifiseer en in 2021 kragte met Gratia Via-akademie saamgesnoer om ’n geakkrediteerde kwalifikasie in tuisversorging aan te bied,” sê Welman.
Die kursus word oor ses maande aangebied waarin teorie en praktiese sessies afgewissel word. Die praktiese komponent word by geïdentifiseerde instansies in die omgewing van die studiesentrum aangebied. Dit beteken ekstra hulp vir die tehuis of instansie in ’n tyd wanneer tehuise dikwels sukkel om genoeg personeel aan te stel om die werk te doen.
“Studente wat hierdie kwalifikasie ontvang, is goed opgelei en voldoen aan ’n hoë standaard. Die praktiese ervaring sal die student die nodige selfvertroue bied om, sodra die kursus voltooi is, hierdie dienswerk met die nodige kennis en ervaring uit te voer. Dus poog Solidariteit Helpende Hand om goed gekwalifiseerde Afrikaanse tuisversorgers die land in te stuur,” verduidelik Welman.
Dr. Elsha Hermann, hoof van navorsing en maatskaplike ontwikkeling by Helpende Hand, sê die organisasie skep met die opleiding nie net ’n toekoms vir die studente nie, maar dit gee ook aandag aan ’n groot behoefte in die gemeenskap.
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê ’n beroep as tuisversorger is nie ’n beroep waaroor ’n mens geneig is om te dink totdat jy dit vir jou of jou familielede nodig kry nie. “Wanneer ons of familie dit nodig het, is ons geneig om altyd die beste te soek – die beste opgeleide versorger teen die beste prys met die beste etiek en die beste vermoëns,” sê Noëth. “Juis daarom is dit vir Helpende Hand belangrik om die beroep tuisversorging te standaardiseer en sterk te maak sodat ons kan sê tuisversorging as beroep is ’n eerbare beroep wat almal eendag kan nodig hê en wat die samelewing sterker maak. Dit is onmisbaar vir ons almal.”
Helpende Hand kon vanjaar rentevrye studielenings deur die Solidariteit Helpende Hand Studietrust aan 15 van die 50 studente bied.
Die toekomsplanne is om die fonds, wat gestig is om tuisversorgingstudente op te lei, te versterk sodat niemand weens geldprobleme weggewys hoef te word nie. . Besoek www.sluitaan.co.za om te skenk.




