Brandweerpersoneel is ongedeerd nadat ’n brandweerwa, wat op ’n huisbrand in Macassar gereageer het, deur ontstoke gemeenskapslede met klippe bestook is.


Brandbestryders wat op ’n brandtoneel in Macassar gereageer het, steier steeds van skok nadat hul brandweerwa deur ontstoke inwoners met klippe bestook is.

Die voorval het verlede Woensdagmiddag (10 Julie) plaasgevind toe personeel van brandweerstasies in omliggende gebiede na die toneel in New Macassar Village uitgestuur is.

Volgens Jermaine Carelse, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het brandweerspanne van die Khayelitsha-, Mfuleni- en Bellville-brandweerstasies omstreeks 16:30 op ’n huisbrand in Gail Arendse-laan gereageer.

“Met die aankoms van die spanne van Khayelitsha het lede van die gemeenskap die brandweerwa met klippe bestook,” het Carelse gesê.

Teiken

Een van die brandbestryders, wat ’n insittende van die voertuig was, het vertel hoe hy en vier kollegas die skrik op die lyf gejaag is toe hulle in die straat aangery kom en skielik die teiken van ’n aanval geword het. “Hulle het geskree ‘gaan weg; ons soek julle nie hier nie’. En toe skiet die klippe in ons rigting,” onthou dié brandbestryder.

Hoewel inwoners blykbaar anders gevoel het, het die brandbestryder gesê spanne was vinniger op die toneel gegewe die gure weer en het op ’n voorval buite hul gebiede gereageer.

Volgens die brandbestryder is plaaslike brandweerspanne na ’n huisbrand in Somerset-Wes ontbied.

Carelse het die voorval bevestig en gesê brandweerspanne van die Somerset-Wes-, Sir Lowry’s Pass-, Strand- en Macassar-brandweerstasies is omstreeks 15:25 na ’n huisbrandtoneel in Upper Mountain-weg ontbied.

Altesaam 22 brandbestryders en vier voorste-linie- brandweerwaens is na die toneel uitgestuur waar die dak deur vlamme verswelg is.

“Die brandbestryders het teen 19:00 daarin geslaag om die brand, wat aansienlike skade aan die formele woning aangerig het, te blus,” het Carelse gesê. “Dit blyk die brand het weens uitgestraalde hitte ontstaan, wat veroorsaak het dat die isolasie in die dakholte aan die brand geraak het. Geen beserings is aange­meld nie, maar ’n gesin van ses is van hul tuiste ontneem.”

Veiligheid

Die brandbestryder het gesê hy het in die hitte van die oomblik aan die bestuurder gesê om nie stil te hou nie en hulle moet vir hul eie veiligheid liewer die toneel in Macassar verlaat.

“Soveel goed jaag deur ’n mens se kop,” sê die brandbestryder, wat meen hy kan steeds nie glo dat inwoners sommer net so uit woede opgevlam, aggressief aksie geneem en nie opgehou het totdat hulle die straat ontruim het nie. Volgens die brandbestryder veroorsaak sulke voorvalle dat nooddiens­personeel nie sonder begelei­ding deur owerhede soos die polisie op noodgevalle kan reageer nie, en dít belemmer hul reaksietyd en om hul werk in ’n krisis of lewensbedrei­gende voorval te doen.

Carelse het bevestig dat aansienlike skade aan die brandweerwa aangerig is en die bemanning moes hulle aan die gebied onttrek. “Die personeel het berading ontvang en die kapelaan is uitgestuur om by die Khayelitsha-brandweer­stasie met hulle in gesprek te tree,” het hy gesê.

Die Macassar-polisie het bevestig dat die voorval aangemeld is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article