Tobie Cronjé vertolk die hoofrol in Die Rebellie van Lafras Verwey. Die fliek se lokprent is nou beskikbaar is. Foto: Jennifer Wheatley


Die bekende radiodrama en verhoogstuk Die Rebellie van Lafras Verwey, uit die pen van bekroonde skrywer Chris Barnard, wat in April in fliekteaters landwyd begin draai, se amptelike lokprent is pas bekendgestel.

Die gesoute akteur, Tobie Cronjé, vertolk die hoofrol.
Hierdie tragi-komedie is gegrond op die 1971-drama wat deur die oorlede skrywer en sy seun, Simon Barnard, verwerk is in ’n eietydse draaiboek.

Dit vertel die verhaal van Lafras Verwey (Cronjé), ’n aardsverlore siel wat nooit die werklikheid rondom hom kon aanvaar nie.

Hy werk in die staatsdiens, maar hoor ander musiek in sy ore en droom drome oor ’n wonderlike toekoms.

Lafras sien homself as ’n sleutelfiguur in die voorbereiding van ’n groot rebellie wat die gesig van die wêreld sal verander.

Wanneer hy Petra (Chantelle Phillipus), ’n jong swanger vrou, onderdak neem, kry die rebellie vir hom nog groter betekenis.

Ironies genoeg, begin sy gedroomde revolusie juis die nag wat die baba gebore word.

Komedie, drama en elemente van fantasie, word verweef in ’n aangrypende storie, van ’n man wat kans sien om die onmoontlike aan te durf om sy droom, van ’n beter wêreld vir almal, te verwesenlik.

Die Rebellie van Lafras Verwey se amptelike première sal Donderdag 9 Maart by die Universiteit Stellenbosch Woordfees vertoon word.

Bekendes soos Neels van Jaarsveld, Phillipus, Cobus Visser, Lionel Newton en Albert Pretorius het ook rolle in dié fliek.

Kyk die lokprent op YouTube.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article