Die Macassar-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen ná ’n brandvoorval wat by die Zandvliet-versorgingsfasiliteit ontstaan en tot die dood van ’n geestelik gestremde pasiënt gelei het.
Die voorval het voorverlede Donderdagoggend (4 Julie) in die vroeë ure by die fasiliteit sonder winsoogmerk, wat dekades lank gespesialiseerde langtermynsorg vir ouer mense bied, afgespeel.
Die insident het later die lewe van ’n 70-jarige man, wie se identiteit aan die koerant bekend is, geëis.
Onduidelik
Volgens ’n polisiewoordvoerder het die voorval Donderdag omstreeks 01:00 plaasgevind. Die polisiewoordvoerder sê ’n geregtelike doodsondersoek is geopen nadat die brandslagoffer vier dae later, Maandag 8 Julie, in die hospitaal beswyk het. “Omstandighede rakende die voorval is steeds onduidelik en is deel van die ondersoek,” het die polisiewoordvoerder gesê.
“Personeel wat op die voorval gereageer het toe die brandalarm geaktiveer is, het die slagoffer langs sy bed op die grond aangetref. Personeel het ’n brandblusser gegryp en die vlamme geblus. Niemand anders is in die voorval beseer nie.”
Die brandslagoffer is aanvanklik glo deur personeel op die toneel vir sy brandwonde en pyn behandel voordat hy later die oggend, omstreeks 07:00, na die hospitaal vervoer is.
Ondersoek
Abulele Dyasi, ’n woordvoerder van die provinsiale gesondheidsdepartement, het bevestig die slagoffer is met ernstige brandwonde na die Helderberg-hospitaal se noodeenheid geneem. “Hy het hoësorg van ons mediese spanne ontvang. Sy toestand het egter vererger en hy is ongelukkig op Maandag 8 Julie weens komplikasies van rookinaseming oorlede. Ons gedagtes is by sy familie en geliefdes,” het Dyasi gesê.
Die fasiliteit se uitvoerende hoof, Lynn Nicholls, het die voorval en die verlies van die inwoner wat deel van hul geestesgesondheidsprogram was, bevestig.
“Die voorval word ondersoek. Intussen kan geen verdere besonderhede bekend gemaak word nie,” het Nicholls gesê.
’n Naasbestaande het die koerant meegedeel dat die familie sukkel met die verlies en talle vrae rakende die voorval het, maar dat hulle kosbare herinneringe van en oomblikke saam met hul geliefde koester.
“Hy was altyd so happy go lucky, en net ’n lieflike mens op sy eie. Hy was lief vir stap en het ’n vreeslike soettand gehad. Hy sal gemis word,” het die naasbestaande gedeel.



