’n Bobaas-toutrekker aan die Hoërskool Strand is verlede Maandag (20 Maart) kort nadat hy sy Westelike Provinsie-kleure ontvang het in ’n ernstige botsing in Gordonsbaai beseer.
Die 17-jarige ongelukslagoffer moes ná die voorval vele operasies ondergaan en sal ’n lang pad na herstel moet stap.
Zandré du Toit, ’n gr. 11-leerder by die Arende, was daardie Maandagaand in ’n ernstige botsing toe ’n wit Honda Civic voor sy motorfiets, ’n rooi Honda XR, ingedraai en die twee gebots het.
Hy was lid van die 600-kg-WP-span wat op Vrydag 24 en Saterdag 25 Maart aan die nasionale toutrekkampioenskap in Swellendam gaan deelneem het.
Volgens kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die botsing omstreeks 20:25 naby Faure Marine-rylaan gebeur toe die bestuurder van die motor glo by die BP Aqua Mall-vulstasie in Gordonsbaai-weg ingedraai het. “Die motorfietsryer, wat ook in Gordonsbaai woon, is na ’n nabye hospitaal geneem aangesien hy erg beseer is. Die erns van sy beserings was toe nog nie bekend nie,” sê Van Wyk.
Zandré is ná sy hospitaalopname van Helderberg-hospitaal na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar hy nog behandel word.
Adrie du Toit, Zandré se ma, het daardie Maandagaand ’n oproep ontvang wat geen ouer ooit wil ontvang nie en is ingelig dat haar kind kort nadat hy sy WP-kleure in toutrek op ’n seremonie ontvang het, in ’n ernstige ongeluk betrokke was. “Hy was kort ná die seremonie op pad huis toe in die botsing betrokke. Ons het ’n videogreep van die voorval gekry, maar ons wag nog vir ’n teater by die Tygerberg-hospitaal. Hy het ’n femur-fraktuur wat baie ernstig is en hy gaan penne moet kry,” vertel sy ma.
In ’n poging om geld vir Zandré se duur operasies in te samel, het sy familie ’n Backabuddy-blad geopen met die doel om R50 000 vir sy behandeling in te samel. Hy word op die blad beskryf as iemand met ’n hart van goud en die deursettingsvermoë van ’n leeu, juis omdat hy iemand is wat nooit opgee nie. Die kostes van sy mediese behandeling is nog nie bekend nie, maar dit sal redelik duur wees en dis waarom die familie mense vra om die jongman van Gordonsbaai te ondersteun.
V Vir nog inligting oor Zandré se Backabuddy-veldtog, besoek www.backabuddy.co.za/champion/project/zandre-du-toit-5552245323318754825 .



