Die toneelgroepe van Hansie Slim, Dors en Verkleurmannetjie wat al drie produksies van die Hoërskool Parel Vallei is, het aan die Wes-Kaapse streek van die ATKV se tienertoneelfees deelgeneem.
Daar heers nou groot opgewondenheid nadat die volgende leerders as kategoriewenners aangewys is:. Beste ensemble: Hansie Slim;. Beste hantering van tegniese aspekte: Dors;. Beste verhoogbestuurder: Jelena Jerling (Dors);. Beste klankoperateur: Lindsay Adams (Hansie Slim); en. Beste beligtingsoperateur: Peter-Ivan Mitrovich (Verkleurmannetjie).
Hansie Slim is ook aangewys as die beste produksie vir die Wes-Kaap-streek by dié fees. Die naaswenner was Hoërskool Jan van Riebeek en Hoërskool Bellville het in die derde plek geëindig.
Hansie Slim, ’n nuutgeskrewe teks, is ’n drama wat handel oor Hansie Slim, ’n gewone skoolkind, wat druk op homself plaas om akademies te presteer, wat ’n rolmodel probeer wees en ’n teorie probeer ontdek wat die wêreld kan verander. Hansie en sy medeleerders ontdek egter gou dat daar altyd berge sal wees wat geklim moet word in hierdie wye wêreld waarin ons leef. Die vraag is of Hansie moedig kan volhou.
Die stuk is treffend en spreek alledaagse tienerkwessies aan.
Parel Vallei is besonder trots op die uitslae en bedank graag die ATKV wat leerders dié nasionale platform bied om kreatief te kan wees en te kan groei in ’n kompeterende, dog lekker omgewing saam met ander skole.
Agter elke suksesvolle hoërskoolproduksie staan daar ook wonderlike onderwysers bankvas agter die leerders en by Parel Vallei is dit Adél van Wyk en Karen Rohwer. Darryl Spijkers is die hoof van drama by PV en word ook bedank vir die konstante toewyding en energie waarmee hy die dramaseisoen aangepak het.
Maandag 6 September sal PV se akteurs ook in spanning wag om te hoor watter hoërskoolproduksies deurgedring het na die nasionale ronde van die fees.



