Terwyl ons graag die voorgeskrewe reëls [van waterbeperkings] wil nakom, is dit onsinnig om dit af te dwing as dit op groter waterverbruik neerkom.
As jou gesondheidstoestand dit moeilik maak om emmers rond te dra, moet toegewings gemaak word vir die gebruik van tuinslange, veral as jy empiries kan bewys dat jy daardeur bespaar. Jou meterlesings kan ook nagegaan word om dit te bevestig.
Vele persone het al in die media uitgewys dat die emmerstelsel meer water vermors as die gebruik van ’n tuinslang. In my geval vat dit vir my so 50 minute om houers vol te tap om so 450 F te gebruik.
Met die tuinslang vat dit my so helfte van die tyd om voldoende nat te gooi soos normaalweg, wat daarop neerkom dat so 225 F water minder gebruik kan word met ’n tuinslang.
Die verduideliking is dat jy met die emmer nie sorgvuldig kan water gooi waar jy dit wil hê nie, terwyl jy met die tuinslang volle beheer het oor presies waar en hoeveel water jy wil spuit. Die gevolg is dat met die emmer te veel water op die verkeerde plekke uitgegooi word.
Dan is daar nog die water wat op plekke beland waar dit glad nie behoort nie. Die grasperk is die groot sondebok vir vermorsing.
Wanneer ’n tuinslang gebruik word is dit noodsaaklik dat dit met ’n gepaste beheerbare spuit toegerus is. Dan kan presies bepaal word hoeveel liter per minuut gebruik word.
Dit is maklik om vas te stel. Tap ’n emmer vol water en kyk hoe lank dit vat om een van 20 F te vul. Dit kom so op 9 tot 10 F per minuut te staan.


