Geregtigheid het vandeesweek geskied vir die geliefde Anneline Titus, die jong Macassar-vrou wat in 2021 ’n heldedood gesterf het toe sy haar eie lewe prysgegee het om haar jonger suster teen ’n messwaaiende aanvaller te beskerm.
DistriksPos & Helderberg Gazette het vroeër berig die 24-jarige Anneline het haar skouermantel opgehang en haar engelvlerke opgeneem toe sy op Woensdagoggend 17 November 2021 die slagoffer van ’n wrede en sinnelose moord geword het (“Dapper suster sterf mesdood,” 25 November 2021).
Anneline het op dié noodlottige dag saam met haar destydse 14-jarige suster, Melisia Lombard, geloop om hul broer se busgeld te neem toe ’n gewapende tienerseun op hulle toegesak het. Die twee susters het kort ná 06:00 van hul woning in Macassar Village na hul ouma se huis in Malgasstraat gestap en spesifiek om veiligheidsredes ’n oop veld met ’n beboste gebied vermy.
Terwyl hulle gestap het, het ’n man met ’n stok in sy hand en ’n beweerde “lelike kyk in sy oë” verby hulle geloop, maar hulle het nie gedink hy sou hulle aanval nie. Hulle was ook nie bewus daarvan dat hy ’n mes by hom gehad het nie. Die man het egter skielik omgedraai, op Anneline afgepyl en haar in die nek steek. Hy het toe die tiener na ’n beboste gebied probeer sleep terwyl Anneline teruggeveg het om haar suster teen moontlike verkragting te beskerm. Weens haar verswakte toestand het Anneline na ’n huis gehardloop en om hulp geskree.
Anneline het egter by die deur inmekaargesak en aan haar wonde beswyk. Melisia het, nadat sy daarin geslaag het om uit die kloue van die aanvaller te ontsnap en Anneline gaan soek het, op haar lewelose liggaam afgekom.
Anneline is later deur owerhede en nooddienspersoneel, wat omstreeks 07:00 op die messteekvoorval gereageer het, op die toneel in Trinidadstraat dood verklaar.
Die messteker, Aldoradough Klaasen van Macassar Village, is deur die polisie aangekeer en op aanklagte van moord en poging tot verkragting in hegtenis geneem. Klaasen was met sy inhegtenisneming slegs ’n 16-jarige, wat na bewering dwelms gebruik het en by bendes betrokke was.
Klaasen, wat nou 18 is, het Woensdag 14 Desember verlede jaar skuld op al twee aanklagte bekend en is verlede Dinsdag (21 Februarie) gevonnis. Die beskuldigde is tot 15 jaar gevangenisstraf op die moordaanklag en vyf jaar tronkstraf op die aanklag van poging tot verkragting gevonnis. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.
Anneline se ma, Pamela Hendricks, het gesê die vonnisoplegging het haar heeltemal sprakeloos gelaat.
“Dit gaan nie my geliefde kind terugbring nie, maar ons is dankbaar vir die Here wat ons nie gefaal het nie en geregtigheid laat seëvier het,” het sy in trane gesê.
Hendricks meen haar gesin is steeds emosioneel oor die tragedie en sê die verlange is steeds erg, “want ons mis ons kind elke liewe dag”.
Sy het verder gesê Anneline het op die dag van die vonnisoplegging die eerste keer in ’n oggend-droom aan haar pa, Glenton, “verskyn”. “In die droom het sy aan hom gesê ‘Mammie en Dêddie kan maar nou rustig word, ek gaan nou rus’. Dié dag van die vonnisoplegging het ons geweet ons moes in die hof wees, maar nie geweet die beskuldigde sou gestraf word nie. Anneline se verskyning het dit bevestig,” het die hartseer ouer gesê.
Melisia, wat vandag 15 is, ly sigbaar steeds aan die trauma van die noodlottige aanval wat haar suster geëis het, maar sy sien uit om haar gr. 8-jaar aan die Hoërskool Macassar met sukses te voltooi.
“Ons bid vir haar toekoms, want Anneline het nog altyd net die beste vir haar toegewens en ons glo sy is trots op die goeie, familie-georiënteerde kind wat sy vandag is,” het Hendricks meegedeel.
Volgens die ondersoekbeampte, konst. Eric Mboniswa, is hy tevrede met die vonnisoplegging, wat nie net ’n sterk boodskap aan misdadigers uitstuur nie, maar bewys is dat tieners ook kan boet vir hul misdade en nie net met ’n ligte straf daarvan sal afkom nie.


