Die vertoonlokaal The Creative Design Hub open eersdaags sy deure by Timbuild Somerset-Wes, op die hoek van Victoria- en Reitzstraat.

Credit: SYSTEM

’n Plaaslike hardeware- en bouvoorraadwinkel wat sy plek in die gemeenskap as ’n betroubare bedryfsleier vol staan, bou voort op sy merkwaardige reis na voortdurende sakesukses met nog ’n besonderse idee wat eersdaags verwesenlik word.

Timbuild Somerset-Wes realiseer vandeesweek die droom om naam te maak as ’n volledige eenstopwinkel vir enige bou- of opknappingsprojek wanneer die familie-onderneming die nuwe toevoeging van ’n vertoonlokaal met die fokus op kreatiwiteit en binnenshuise ontwerp op die perseel open.

Timbuild het in samewerking met Lace Interiors die vertoonlokaal, The Creative Design Hub, op die hoek van Victoria- en Reitzstraat op die been gebring en stel die pasgemaakte ruimte Vrydag (9 Februarie) aan ’n groep uitgekose gaste bekend, onder wie lojale klante, sakevennote en ondersteunende gemeenskapslede.

Die vertoonlokaal se deure open amptelik ná ses maande van beplanning en harde werk Maandag (12 Februarie) vir besigheid “en almal”.

Op die vraag waarna besoekers kan uitsien, het Dirk Viviers, wat saam met die mede-eienaars Stuart Oliver en Liezl le Roux aan die stuur van bedrywighede is en ’n praktiese benadering as besturende direkteur toepas, gesê: “Die hele idee vir die showroom is vir klante om moontlike oplossings vir hul unieke behoeftes in enigiets van kombuiskaste, toonbanke en afwerkings, krane, verfkleure, vloere en teëls, en selfs blindings en gordyne, te kan wys; om te kan vat, voel en sien hoe goed soos byvoorbeeld soft-close hinges prakties werk.”

Liesl Smuts, die eienaar van Lace Interiors, het die treffende ontwerp en uitleg van die unieke vertoonlokaal, wat na bewering een van twee van sy soort in die Helderberg-kom is, met sukses behartig. Smuts het haar opgewondenheid om Helderbergers te kan blootstel aan ’n ruimte wat kreatiwiteit, inspirasie en idees bevorder, uitgespreek.

“Ek is regtig mal daaroor om kombuise te ontwerp en The Creative Design Hub gaan alles oor verskillende kombuisstyle, hardeware en afwerkings,” het die trotse sakevrou, eggenoot en ma gesê.

“Ons het probeer om te verseker dat besoekers die beste ervaring beleef. Hulle moet by die vertoonlokaal kan instap en elke opsie moontlik kan sien. Hulle sal alles kan beplan, of dit nou ’n new build of renovation is. Die Creative Design Hub voorsien in al klante se binne- en buite-ontwerpbehoeftes.”

Volgens Smuts stel sy in konsultasie met ’n klant ’n werkbare begroting vir die projek vas, en help met onder meer ontwerp-uitleg, mood boards, praktiese projekbestuur van die werkterrein, proses en kontrakteurs van begin tot einde, verkryging van materiale, meubels, toebehore en alle sagte meubels.

Boonop het klante toegang tot die dienste van ’n wonderlike netwerk bekwame professionele mense en bedryfspesialiste saam met wie sy werk en wat bekend is vir uitnemende diens.

Die vertoonlokaal bied verskeie opsies vir ’n verskeidenheid vertrekke, insluitend kombuise in vyf verskillende style gebaseer op tendens en luuksheid, maar ook bekostigbaarheid en eenvoud.

Maatskappye wat bygedra het tot The Creative Design Hub is IQP Flooring and Blinds, Thjoko Paint, That Rock Shop Marble & Granite, PG Bison, Sonae Arauco and Plascon Paint.

Volgens Smuts streef die vertoonlokaal om vroue “ ’n friendly, inviting space te bied waar hulle lekker op ’n rusbank tussen verekussings kan sit, koffie drink en kyk en beplan”. “Hulle hoef nie ’n groot [huisverbeteringswinkel] in te vaar en oorweldig te voel oor die taak wat voorlê nie.”

Smuts het bygevoeg die belangrikste doel van die vertoonlokaal is vir klante wat hulle tot The Creative Design Hub vir hul bou- of opknappingsprojek-behoeftes wend om opsies te kan visualiseer. “Die meeste mense weet nie eens waarvan hulle hou nie. Hulle weet hulle het iets nuuts nodig. Hulle weet hulle hou nie van wat hulle het nie, maar hoekom hulle nie daarvan hou nie, weet hulle nie. En hulle weet ook nie wat hulle dan wil hê nie. Al kom hulle dus met een klein ideetjie, weet hulle ook niks van die res nie. Dis half die norm. Dit is hoekom mense voor ’n ding moet kan staan en sê ‘oukei, ek kan nou sien hoe lyk so ’n lang kas; ek kan dit oopmaak en sien hoe dit werk; dít maak vir my sin. So word die hele prentjie geskep en dan begin dit ’n werklikheid word,” verduidelik Smuts.

. Skakel Timbuild Somerset-Wes by 021 851 7160 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article