Twee susters van Rusthof het ’n kans gewaag en ’n TikTok-blad geopen waarop hulle kos maak en 50 000 volgelinge later is die twee amper ’n huishoudelike naam.
Najma Abrahams (Tietie) en Azbah Fanie (Nanna) het onlangs die onmoontlike in ’n moontlikheid verander toe hul kosmaak-video’s soveel bekendheid verwerf het in ’n maand waarin hulle die 50 000-volgmerk oorgesteek het dat die twee toe ’n kans waag en vir ViaTV se tuiskokprogram inskryf. Toe haal hulle boonop die top-agt van die kompetisie.
“Ons het ons talente om kos te maak van ons ma, Mymoena, gekry. Sy het ons geleer van ons 11 jaar oud was om kos te maak met haar resepte en haar insae. My ma het altyd tydens ons bidure iets gemaak wat ander nie kon maak nie. Sy was so bekend vir haar ‘ring’-donuts. Sy sou sakke vol daarvan maak tydens ons tydperk van vas en dan moes ons vir almal op ons ma se lysie gaan aflaai,” sê Abrahams.
Haar seun en dié se neef het besluit om vir die twee (Tietie en Nanna) ’n TikTok-kanaal oop te maak en dit het behoorlik vlamgevat.
“Ons was dakloos, ons het alles verloor. Nanna was die hoofbroodwinner en ek moes iets doen om te help. Ek het kos begin maak om te verkoop. My seun Ubaid Abrahams het voorgestel dat ek ’n TikTok-kanaal oopmaak. Hy het my aangepor om ’n TikTok-video te maak,” voeg sy by.
Tietie het roeties gemaak op een van die eerste video’s en dit was so ’n groot treffer dat hulle net aanhou video’s maak het.
Tussen dit als deur het Tietie en Nanna saam besluit om in te skryf vir ViaTV se kompetisie waarvan die wenners vandag (Woensdag 14 Junie) aangekondig word.
“Ek gaan dalk net skrik vir die kameras, maar vir die kosmaak skrik ek en my sussie nie.”
Die twee doen als in Afrikaans, hulle is outentiek, hulle is wie hulle is.
“Ons stoof se deur maak nie reg toe nie. Ons moet ’n krieketkolf vat om dit toe te hou. Toe ons eenkeer ‘live’ gaan op TikTok toe dink die mense die kolf is net ’n ‘prop’, maar ons gebruik dit werklik om ons stoof se deur toe te hou,” grap Nanna.
Wat ’n mens sien is wat ’n mens kry en die twee maak kos van bestanddele wat in die huis is.
“Ons maak wat in die huis is. Baie kere wil mense ná ons TikTok-video’s sommer hier opdaag en kom eet. Ons hou een keer per week ’n ‘broke’ week (wat gewoonlik die einde van die maand is). Dan kan mense nie net inval en kom eet nie. Dan moet hulle ’n afspraak maak of bestanddele saambring as hulle iets wil eet,” voeg Tietie by.
Die twee was op moedverloor se vlakte voor hulle die groot sukses behaal het.
Hulle was vier keer sonder heenkome en ’n weldoener het haar hart oopgemaak en hulle ingeneem.
“Ons was dakloos. Ons is vier keer deur ’n vrou met ’n oop hart ingeneem en versorg. Ons was op moedverloor se vlakte.
“Ons het nie woorde om daardie vrou te bedank wat ons gehelp het toe ons geen heenkome gehad het nie. Ná die vierde keer het ons besluit ons moet iets doen om te verhoed dat ons nie weer ons huis verloor nie.”
Die twee en Tietie se twee seuns en dié se neef begin toe met die TikTok- video’s.
Tietie en Nanna is voor die kamera en hulle maak die kos en die seuns en neef hanteer die tegnologie-kant.
“Ons wil almal bedank vir hul oop hande en ook vir diegene wat gereeld goed aan ons skenk.
“Ons wil elkeen bedank wat ons video’s volg en vir dié wat vir ons gestem het in die ViaTV-kompetisie,” sluit Tietie af.. @Tietie786 is die naam van die twee se TikTok-kanaal.



