‘n Baie spesiale jong man is Maandag 24 Maart by die Universiteit Stellenbosch (US) se gradeplegtigheid luidkeels deur twee “gesinne” toegejuig.
Toe Ubaid Abrahams van Strand sy honneursgraad in joernalistiek ontvang,
het sy ma, Najma, en sy tannie Azba van trots gestraal om te sien hoe die eerste lid van hul gesin gradueer. Vir hul aanhangers is die Abrahams-susters as Tietie en Nanna bekend – ‘n geliefde kook-paar wat bekendheid verwerf het danksy die TikTok-video’s wat Abrahams van hulle maak.
Die bekwame inhoudskepper is ook deur sy nuwe “gesin” – die US se Korpo-
ratiewe kommunikasie- en bemarkingsafdeling – gevier, waar hy sedert die begin van die jaar geweldige waarde as junior multimediajoernalis toevoeg.
Wat Abrahams se prestasie as die kreatiewe dryfkrag agter twee van Suid-Afrika se mees geliefde
sosialemediasensasies so merkwaardig maak, is dat hy aan sy ma en tante se kookprojek gewerk het terwyl hy ook aan die eise van ‘n baie veeleisende honneursgraadkursus moes voldoen.
SKEP SENSASIE
Terwyl Abrahams ‘n finalejaar-BA-student was, het ‘n onverwagte projek tuis ontvou. In 2023 het hy sy ma en tannie oortuig om hul kookkuns te begin verfilm. “Ek sê al jare lank vir hulle hulle moet iets op sosiale media doen. Hulle het wonderlike persoonlikhede en hulle kán kook. Maar hulle het dit nooit ernstig opgeneem nie.”
Terwyl hulle een Vrydag besig was om roetie en kerrie vir ‘n klein tuisgebaseerde voedselonderneming voor te berei, het Abrahams sy foon opgetel en begin opneem hoe Tietie ‘n gereg voorberei.
“Ek het vir my ma gesê: ‘Kom ons probeer net iets.’ Daardie video is binne ‘n paar uur honderde duisende kere gekyk. Van daar af het dit met mag en mening gegroei.”
Hul TikTok-kanaal, @tietie_and_nanna786, het ‘n soos ‘n veldbrand versprei en oornag ‘n treffer geword met miljoene kyke en meer as 300 000 volgelinge. Die susters se sjarme, egtheid en watertand- Kaaps- Maleise geregte het by mense oor SA heen en delfs verder aanklank gevind. Hulle het sosialemedialieflinge geword, is ‘n kookprogram op VIA TV aangebied, het ‘n gewilde kookboek, Tietie en Nanna se Huiskos, laat verskyn en is vir Netwerk24 se Smaakmaaker-toekennings benoem.
Vir Abrahams was die lonendste aspek die gemeenskap wat om hulle gevorm het. “Mense kyk nie net na hul video’s nie – hulle voel verbind aan hulle. Hulle sien hulle as hul eie ma’s en tantes. Die kommentaar en boodskappe wat ons ontvang, is oorweldigend.”
VAN ONSEKERHEID NA JOERNALISTIEK
Abrahams was lank onseker oor sy toekoms. Die situasie by die huis was uitdagend aangesien die gesin dikwels sonder enige finansiële sekerheid rondgetrek het. Terwyl sy gesin hom aangemoedig het om vir werksekerheid in die onderwys te gaan studeer, het hy tot storievertelling aangetrokke gevoel.
“Ek was nog altyd ‘n skepper,” sê hy. “Gee my ‘n kamera, ‘n foon en ‘n mikrofoon, en die ware ek kom na vore.”
Nadat hy sy BA-graad voltooi het, het hy sy visier op die US se gesogte joernalistieke
honneursprogram gerig, hoewel hy nie optimisties was dat hy sou inkom nadat hy op ‘n waglys was nie. Hy is aanvanklik ‘n plek in die departement Afrikaans en Nederlands se honneurskursus in vertaling en redigering aangebied.
Toe, ‘n week voordat klasse sou begin, het hy ‘n onverwagte oproep ontvang – ‘n plek het op die laaste oomblik in die joernalistiekkursus beskikbaar geword. Ondanks die feit dat hy nie finansiering gehad het nie, het hy ‘n geloofsprong geneem.
“Ek het dit as ‘n teken gesien dat dit is waar ek moet wees.”
Die program was intens. “Hulle sê van die begin af vir jou dat hierdie kursus jou lewe gaan oorneem. En hulle is reg,” lag hy.
Laat nagte, sperdatums op die laaste oomblik en meedoënlose druk het sy jaar gedefinieer. Maar deur dit alles het een gedagte hom aan die gang gehou: “Daar is so baie mense wat nie hierdie geleentheid kry nie. Ek moes net deurdruk.”
Abrahams het hom aan die begin van 2025 by die US se afdeling korporatiewe kommunikasie en bemarking as ‘n junior multimedia-inhoudvervaardiger aangesluit, en het vinnig sy merk gemaak met sy skerp oog vir video-storievertelling. “Dit was nie wat ek my oorspronklik voorgestel het toe ek aan joernalistiek gedink het nie, maar dit is ‘n ongelooflike ervaring. Ek het al so baie oor inhoudskepping en handelsmerk-bestuur geleer. Die joernalis in my is nog daar – hy pas net aan.”
GRYP GELEENTHEDE AAN
Ondanks Tietie en Nanna se sukses, is dit nie altyd so eenvoudig om ‘n inkomste vir ‘n sosialemediahandelsmerk te verdien nie, sê Abrahams oor sy deeltydse beroep. “Mense dink as jy op TV is of duisende volgelinge het, maak jy miljoene. Dis nie waar nie. Maar vir ons het dit nooit oor die geld gegaan nie. My ma sê altyd sy doen dit nie vir ‘naam en roem’ nie – sy wil net haar liefde vir kook deel.”
Abrahams bly beskermend oor die handelsmerk. “Ek dink nie ek sal ooit ‘n eksterne entiteit vertrou om my ma en tannie te bestuur nie. Ek hou dit eerder outentiek as om openbarebetrekkingemense te hê wat alles vir geld probeer beheer. My ma en tannie het dit diep in hul 50’s begin. Daar sal ‘n afsnypunt vir hul tyd op sosiale media wees. En dit is oukei. Wat saak maak, is dat hulle ‘n nalatenskap agterlaat – die video’s, die kookboek, die TV-program … Dit sal altyd daar wees.”
Vir eers lyk die toekoms blink en hul dagboeke is tot oorlopens toe vol met afsprake. Tietie en Nanna is na kunste- en boekfeeste reg oor die land genooi waar gretige aanhangers ongetwyfeld toustaan om hulle te ontmoet.
Najma is baie trots op haar seun se prestasies, al het Ubaid nog nie veel teken van talent as kok getoon nie, skerts sy.
Op ‘n ernstiger noot voeg sy by: “Vir my was dit baie belangrik dat Ubaid ‘n goeie kwalifikasie moes ver-werf. Ons het ‘n groot gesin, maar hy was die eerste om aan ‘n universiteit te studeer. Die US was nog altyd vir ons spesiaal. Dit is ‘n wonderlike oomblik.”






You must be logged in to post a comment.