’n Steeds sprankelende Zhara met die einste skapie wat die projek geïnspireer het. Foto: Jamey Gordon


Woensdag 15 Februarie was Internasionale Kinderkankerdag en het die kollig opnuut op die dodelike siekte, wat wêreldwyd toeneem, geplaas.

Volgens Childhood Cancer Foundation SA (Choc), die organisasie sonder winsoogmerk wat hom beywer vir die gesondheid en welstand van kinders en tieners by wie kanker of lewensgevaarlike bloedversteurings gediagnoseer is, sowel as dié van hul gesinne, word nou beraam dat kanker by een uit 408 kinders wêreldwyd voor die ouderdom van 15 jaar gediagnoseer sal word.

Die 10-jarige blouoogkind Zhara du Toit, wat beskryf word as ’n skrander leerder met bewonderenswaardige lewenslus, veg op plaaslike bodem – soos talle ander – ook ’n kankerstryd, wat haar uit vurige passie vir haar medemens aangespoor het om ’n spesiale projek van stapel te stuur.

Kanker is in Januarie by dié gr. 5-leerder aan die Laerskool Lochnerhof gediagnoseer en die geskenk van ’n sagte speelding voor haar eerste groot operasie het haar geïnspireer om ’n soortgelyke troos aan ander klein kankerlyers te besorg. Só het Zhara se Skapie-projek ontstaan en sy doen ’n beroep op gemeenskapslede om ’n verskil te maak deur hul breipenne ter ondersteuning van die hartverwarmende inisiatief op te neem en skenkings van skapies te brei of te hekel.

skapie vertroos haar

“My tannie het vir my ’n skapie gegee sodat ek in moeilike tye of wanneer ek bang en hartseer voel, sal onthou ek is Liewe Jesus se skapie en Hy my herder. So, met ’n skapie om vas te hou, wil ek ook ander kinders troos met die wete dat Jesus hul herder is,” het Zhara gedeel.

Pleuropulmonary Blastoma, ’n baie seldsame en aggressiewe kwaadaardige gewas van die longvlies, is op Woensdag 25 Januarie by Zhara gediagnoseer nadat sy tydens die vakansie kort voor die nuwe akademiese skooljaar aangebreek het, aanvanklik gekla het van moegheid, pyn in die bors, skouer en blad en later boonop haar eetlus verloor het. Zhara is ná ’n doktersbesoek, waartydens met X-strale bepaal is dat sy moontlik aan longontsteking ly, vir ’n week op twee kursusse sterk antibiotika geplaas. Ná die week lange behandeling het ’n opvolgbesoek en nog X-strale hierdie keer aangedui niks het verbeter nie. In plaas daarvan om die eerste dag van skool aan te durf, is Zhara Woensdag 18 Januarie in ’n private hospitaal opgeneem en later na ’n pulmonoloog by die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal verwys, wat deur wyse van toetse en skanderings bevestig het dit blyk sy het ’n sist onder haar regterlong. Zhara het Maandag 23 Januarie ’n operasie ondergaan om die sist te verwyder, maar tydens die operasie het mediese personeel besef meer is aan die gang en het met biopsie bepaal sy het kanker.

Die idee vir die projek het posgevat terwyl Zhara ná die operasie in die hoësorgeenheid herstel het en een van haar opgestopte hasies aan ’n vier maande oue meisietjie as troos geskenk het. Die meisie en haar ma van die Kongo het – soos vele ander – nie eens blomme of ’n kaartjie langs haar hospitaalbed gehad nie. Die skenking het haar laat besef dat dié meisietjie se werklikheid ook dié van soveel ander kinders is en sy het besluit sy wil ’n verskil maak.

“Al waaraan Zhara kon dink terwyl sy in pyn daar gelê het, was om die geliefde pienk hasie skoon aan sy nuwe eienaar te besorg,” vertel haar pa, Johan.

Hy en Zhara se ma, Zachary, meen as ouers van drie meisies ken hulle alte goed die vreugde wat ’n teddiebeer of enige ander sagte speelding aan ’n kinderhart besorg. “Toe Zhara siek geword het, het sy baie as geskenke gekry – klein, groot, in allerhande kleure en almal spesiaal, want dit kom van ’n spesifieke persoon af,” verduidelik Zachary.

Maar Zhara meen om sulke vreugde te skenk, het haar byna net soveel genot gebring as om te ontvang. “Toe ek dit aan die meisietjie gee, was dit so lekker,” sê dié omgeekind met ’n glimlag wat van oor tot oor strek.

Maar, benewens die vreugde en troos meen die Du Toit-egpaar dat hulle ook ’n boodskap van hoop met elke skapie-skenking aan die ouers van kinder pasiënte wil uitstuur.

Hulle is opnuut dankbaar vir ’n onwrikbare ondersteuningsnetwerk van familie, vriende, die kerk en die breë Strand-gemeenskap wat benewens boodskappe en omgee intree en sterk staan wanneer hulle nie in staat is nie en hulle in warm liefde omhels en dra.

“Ons is bevoorreg om te wees en bly waar ons is; ons is op die regte plek. Hierdie reis is nie wat ’n mens wil hê nie, maar dit laat jou tog groei. Wanneer ’n mens so iets in die gesig staar, kom ongelooflike mense op ’n mens se pad – van die dokter en hospitaalpersoneel tot die skoonmaker en die kelnerin in die hospitaal-koffiewinkel waar ons baie kere oor ’n koppie boeretroos ’n traan stort. Daar is soveel wat ’n mens moedeloos kan maak, maar ook soveel wat ’n mens nie kan miskyk nie en voor dankbaar moet wees,” sê Zachary.

Johan sê hulle is dankbaar vir hul seëninge – dat hy met sukses sy toerisme-sakeonderneming en organisasie sonder winsbejag, 2cChange, wat aan die onderneming gekoppel is, kan bestuur; Zachary as voltydse ma en die klein goedjies soos hul eie vervoer om by die hospitaal uit te kom en ’n koppie koffie met besoeke te kan bekostig.

oudste van drie dogters

Hul fokus is nou Zhara se gesondheid en die projek, wat bewys is van die soort kind wat sy is. Volgens haar ouers plaas sy as oudste van hul drie dogters altyd haarself laaste en ag ander se gevoelens belangriker as hare. Sy is lewens- en avontuurlustig, pak alles voluit aan en leef sonder terughou.

Dis hoekom Zhara haar diagnose met baie teleurstelling ontvang het. As gretige leerder wat skool ten volle geniet, het sy uitgesien om die netbalspan te haal, in die skoolkonsert en aan die entrepreneurdag deel te neem, en haar skoolmaatjies elke dag te sien.

“Ons is trots op ons vegter,” meen Zachary.

Zhara sal vir die volgende 36 weke behandeling ontvang, wat drie weeklange siklusse van vier verskillende soorte chemoterapie in ses dosisse oor drie dae behels. Die intense behandeling laat Zhara kwesbaar vir infeksie omdat dit haar immuunstelsel afbreek.

“Ek glo sy sal baie vinnig gesond word. Ek voel dit in my hart en ek het in die Bybel ’n belofte gekry,” sê Zachary, wat verder meen sonder die Here is dit onmoontlik om die stryd aan te pak en te oorwin.

Benewens skenkings van ongeveer 40 skapies, het die projek reeds talle Helderbergers se breipenne aan die klap. Selfs Gracious Crochet, ’n Gordonsbaaise kleinsakeonderneming wat handgemaakte hekel-produkte van unieke smaak verskaf, het ingespring en bied belangstellendes wat graag die projek wil ondersteun, maar nie self kan brei of hekel nie, die geleentheid om dit teen ’n fooi namens hulle te maak en af te lewer. En, indien jy self wil hekel, word selfs die patroon vir die Zhara-skapie aan ywerige breiers verskaf.

“Ek glo daarin om te ontvang, moet ’n mens uitreik en gee,” verduidelik Janine Cloete, wat bedags as polisiespeurder in Strand dien en in haar vrye tyd kledingstukke en ander goed hekel om te ontlont. Cloete het gedurende die covid-pandemie leer hekel en Gracious Crochet as ’n tweede inkomste op die been gebring. Vir Cloete, wat deur familielede se kankerstryd aangeraak is en as ma van twee seuns, wat oud-Lochies is, het sy verplig gevoel om te help.

V Vir meer inligting, bel Gracious Crochet by 082 921 8177.

V Vir meer oor die projek of om jou ondersteuning te bied, WhatsApp Juanita van 2cChange by 071 685 9142.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article