Ná twee dekades het Temperance Town Primêre Skool die tradisie van Mnr. en Mej. Temperance Town Primêr verlede Donderdag (2 Oktober) by die Dr. G.J. Joubert-skoolsaal in Strand hervat.
Die Gordonsbaaise laerskool het Brooklyn Roos (junior) en Lyvano Mthembu (senior) as Mej. Temperance Town Primêr gekroon, terwyl Keathan Johnson (jr) en Johnathan Latief (sr) tot ridder geslaan is.


Dié spesiale geleentheid het leerders ‘n kans gebied om hul talente, selfvertroue en skoonheid te vier terwyl skoolgees opgebou word.
Die leerders is deur koninklikheid vereer toe Mariyam Waries, die wenner van Mej. Temperance Town 2005, die fakkel aan die wenners oorhandig het. Waries het sewe jaar gelede as ‘n gr. 4-onderwyser na die skool teruggekeer.
Die doel van die vertoning was om geld vir die skool in te samel aangesien dit ‘n geen-fooi-skool is.
Die skool maak staat op die ondersteuning van die gemeenskap en plaaslike ondernemings om instandhouding en vooruitgang te verseker. Geldinsamelingsprojekte, soos dié wat met die geleentheid verbind is, vervul ‘n belangrike rol om die skool te ondersteun.
“Die bestuur en personeel spreek hiermee hul opregte dank uit teenoor die gemeenskap, ouers en borge, wat tot die sukses van hierdie en ander projekte bydra,”
het Zaibuniesa Windvogel, die skoolhoof, gesê.





You must be logged in to post a comment.