Tannie Poppie van As en haar dogter Naomi Etson van Macassar vorm ’n gedugte span as dit by roosterkoeke kom. Dié ma-en-dogter-span bak van verlede week af saam roosterkoeke in Macassar.Foto: Rick Marais


Die nuus dat Tannie Poppie van As van Laingsburg, die koningin van roosterkoeke, saam met haar dogter in Macassar roosterkoeke maak, het soos ’n veldbrand versprei – soveel so dat Naomi Etson, Tannie Poppie se 27-jarige dogter, se stalletjie voor haar huis in Macassar sedert verlede Maandag (20 Februarie) omtrent deurgetrap is deur klante wat kom roosterkoeke haal het.

Naomi, wat tans in Macassar woon, het aan die einde van 2022 haar eie roosterkoek-onderneming op die been bring en die geheime deegresep van haar ma op plaaslike bodem laat voortleef.

Sy het, nadat sy vir jare roosterkoeke saam met haar beroemde ma gebak het, besluit om nou roosterkoeke van haar eie hier in Macassar te maak (“Tant Poppie se koek hier!”, DistriksPos & Helderberg Gazette, 30 November 2022).

“Ek was swanger met my oudste seun toe my ma in 2010 in Laingsburg begin brood bak het. Daardie tyd het sy brood in buite-oonde gebak. Sy het toe vir oom Piet Geldenhuys bakbrode begin maak, en toe het sy behoorlik weggetrek,” onthou Naomi.

Toe sy destyds uitvind sy is swanger, het sy besluit om nie terug te gaan skool toe nie en eerder saam met haar ma by die stalletjie te gaan werk.

Dis Woensdag (22 Februarie) en agter die braaier staan Naomi en Tannie Poppie en draai die roosterkoeke sorgvuldig om; tussendeur draai Naomi om en knie so ’n paar roosterkoeke voordat sy dit uitrol en in stroke sny. Die twee werk saam as die perfekte span. As die een roosterkoeke draai, sny die ander een deeg, en later ruil hulle om. Dis amper asof hulle nie dink wat hulle doen nie; asof hulle op aanvoeling werk.

“Ons moet nog 50 roosterkoeke maak, wat vandag nog Durbanville toe moet gaan. Dis een van my ma se ou klante wat destyds ’n tent vir haar geborg het waaronder sy roosterkoeke gemaak het,” sê Naomi voordat sy nog ’n roosterkoek omdraai.

Tannie Poppie vertel haar hart was geskeur toe haar dogter haar destyds in Laingsburg moes agterlaat.

“My dogter kan twee dinge goed doen – sy kan goed sing en sy kan baie lekker roosterkoeke maak,” spog Tannie Poppie.

Sy vertel roosterkoeke het haar al ver in haar lewe gebring – dit het haar selfs al Italië toe geneem en sy is boonop ’n werk daar aangebied, maar moes dit van dit hand wys, want sy moes na haar man, wat intussen oorlede is, kom omsien.

“Dit het alles so dertien jaar gelede begin. Ek het brood in buite-oonde begin bak. Die Here het my die gedagte gegee om roosterkoeke te bak, en ek het my kinders ook geleer.”

Sy het ’n Coke-trollie wat sy by oom Piet Geldenhuys van Laingsburg gekry het, skoongemaak en vir haar roosterkoekbakkery ingerig.

“Oom Piet het aanbeveel ek moet R5 vir normale roosterkoeke vra en R10 vir die kaas-en-jam-roosterkoeke.

“Dis waar dit alles begin het,” onthou Tannie Poppie.

Dag ná dag het sy bietjie vir bietjie verbeter totdat sy haar roosterkoekresep perfek gekry het.

“Die dag toe Naomi uit die skool is, toe het ek haar vertel dat haar naam Roosterbrood is. Sy moes kom roosterbrode omdraai. Ek het haar geleer hoe om te knie en vandag doen sy als op haar eie. Sy het ‘in die roosterbrood’ grootgeword. Haar kinders is destyds die roosterbrood-kindertjies genoem,” vertel Tannie Poppie.

Naomi het voordat sy haar eie roosterkoekbakkery begin het, by ’n winkel gewerk wat haar roosterkoek-resep wou gebruik, maar sy het besluit sy sal haar ma en haar familie nie reg aandoen om die “geheime” resep uit te lap nie.

“Tannie Poppie se roosterkoeke gaan voort. Die legacy gaan aan. Met die woorde uithou, mondhou en aanhou streef ek om ek en my ma se roosterkoeke in Macassar ’n naam te gee,” sê Naomi.

Sy neem steeds bestellings waar klante self die roosterkoeke by haar huis in Koedoestraat moet kom afhaal. Tannie Poppie is tot Vrydag (3 Maart) by Naomi en as jy wil bestel, moet jy vinnig spring voordat al die roosterkoeke uitverkoop is.

Belangstellendes kan Naomi by 065 650 9374 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article