“Ek is tannie Poppie Roosterkoek se dogter.”
Trots stel Naomi Etson, die 27-jarige dogter van Tannie Poppie van As, die bekende roosterkoekbakker van Laingsburg, haarself voor.
Etson woon tans in Macassar en gaan haar eie roosterkoek-onderneming op die been bring en die geheime deegresep op plaaslike bodem laat voortleef.
Sy het nadat sy vir jare roosterkoeke saam met haar beroemde ma gebak het, besluit om nou roosterkoeke van haar eie te maak.
“Ek was swanger met my oudste seun toe my ma in 2010 in Laingsburg begin brood bak het. Daardie tyd het sy brood in buite-oonde gebak. Sy het toe vir oom Piet Geldenhuys bakbrode begin maak, en toe het sy behoorlik weggetrek,” herroep Etson.
Toe sy destyds uitvind sy is swanger, het sy besluit om nie terug te gaan skool toe nie en eerder saam met haar ma by die stalletjie te gaan werk.
“Ek was baie skaam, want hier loop my skoolmaats verby en ek staan langs die N1 en verkoop produkte uit my ma se stalletjie saam met haar. My ma het elke dag met hout oor die Buffelsrivier-brug na die stalletjie geloop, en dis hoe sy begin het. Ek het baie by haar geleer. Die fietsryer-gemeenskap het my ma toe ontdek en sy het baie gewild geword.”
Sy vertel hoe haar ma ook die droom gehad het om oorsee te gaan en dit is verwesenlik toe sy Italië toe is – alles te danke aan haar roosterkoeke.
“Die roosterkoeke het my ma so ver gebring, en dis hoekom ek besluit het toe ek vroeër vanjaar Macassar toe trek, om met roosterkoeke te begin, want ek het onlangs getrou en ek het ’n werk by ’n bekende kettingwinkel gehad, maar dit het nie vir my uitgewerk nie, want ek moes op dié ‘journey’ begin,” vertel sy.
Etson gaan vir eers haar roosterkoekbesigheid van haar huis af bedryf en klante sal (vir eers) die roosterkoeke self by haar huis moet kom haal totdat sy haar eie vervoer kry.
“Dis soos my ma altyd sê: ‘Aanhou, mond hou, en vorentoe kyk.’ My ma het my geleer om nooit bakhand te staan voor mense nie. As jy iets kan doen, probeer. Moenie net opgee nie.”
Sy vertel haar man is die enigste een in die huishouding van agt wat werk en sy het besluit sy wil ook tot die huishouding se geldsake bydra.
“My ma glo daarin as jy ’n rooster het en jy het kole, dan kan jy roosterkoeke maak.
“Dis waarom ek verlede week besluit het om op sosialemediabladsye in die Helderberg te adverteer oor my nuwe besigheid en dat ek Tannie Poppie Rooseterkoek se dogter is.”
Sy het nou al verskeie bestellings ontvang en sien daarna uit om die besigheid op die been te bring.
“Ek gaan eers leer kruip voordat ek gaan loop. Maar ek wil ’n beter lewe vir my kinders skep – soos my ma vir my gedoen het,” sê sy.
Sy droom groot en wil nog in Macassar roosterkoeke saam met haar ma ook maak.
“Ek wil vir eers ’n ‘gazebo’ voor my huis opslaan, waar ek roosterkoeke kan maak dat mense kan sien hoe ek die roosterkoeke maak. Ek wil voor die huis werk waar mense my kan sien sodat mense van my kan weet. My besigheid gaan bekend staan as Tannie Poppie se roosterkoeke made by Amy. Almal het my destyds op Laingsburg as ‘mal Amy’ leer ken omdat ek so baie gepraat het!” V Indien jy by Naomi se nuwe roosterkoekbesigheid bestellings wil plaas, kan jy haar by 065 650 9374 bel.



