Altesaam 52 spanne het die verlede naweek (Saterdag 13 en Sondag 14 Mei) aan ’n deurnag-staptog, wat die “Spore vir Zhara”-staptog gedoop is, deelgeneem.
Die staptog op die Laerskool Lochnerhof se rugbyveld het plaasgevind met een doel voor oë, en dit was om geld vir Zhara du Toit se Skapie-projek in te samel.
Dié 10-jarige blouoogkind, wat as ’n skrander leerder met bewonderenswaardige lewenslus beskryf word, veg op plaaslike bodem – soos talle ander – ook ’n kankerstryd, wat haar uit vurige passie vir haar medemens aangespoor het om ’n spesiale projek van stapel te stuur.
Kanker is in Januarie by dié gr. 5-leerder van die Laerskool Lochnerhof gediagnoseer en die geskenk van ’n sagte speelding voor haar eerste groot operasie het haar geïnspireer om ’n soortgelyke troos aan ander jong kankerlyers te besorg. Só het Zhara se Skapie-projek ontstaan (“Kankerlyer (10) reik só uit,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 1 Maart 2023).
Verskeie mense het in ’n mengelmoes kleure aan die deurnag-staptog kom deelneem en die Laerskool Lochnerhof het dit as ’n reusesukses beskryf.
“Die atmosfeer dwarsdeur die nag was ongelooflik. Wie weet, dalk trap Zhara se spore nog dieper en word dit ’n jaarlikse instelling,” het Hanli Geldenhuys van die Laerskool Lochnerhof gesê.



