Die boek Rooikop innie Pekel is Vrydag 10 Februarie op die skrywer se 80ste verjaardag bekend gestel – ’n merkwaardige mylpaal!
Japie Fourie, ’n inwoner van Serenitas-aftree-oord in Strand, is ’n oud-landdros en van jongs af ’n boekwurm. Sy lewensideaal en -droom is verwesenlik met die skryf en uitgee van hierdie spanningsvolle fiksie-speurroman, wat in Gordonsbaai en omgewing afspeel, maar ook ’n draai in Europa gaan maak.
Die boek is in die hedendaagse konteks geskryf en pronk met ’n moderne aanslag.
’n Moord word op ’n luukse boot gepleeg en die lyk verdwyn soos mis voor die son.
Lesers word deur ’n dramatiese moord-ondersoek meegesleur, met ’n opbouende spanningslyn, vele kinkels in die kabel en ’n verrassende en onverwagte einde.
Die boek is gedruk en uitgegee deur Wellington Drukpers (Edms.) Beperk.
Enigiemand wat ’n kopie van die boek wil koop, kan die volgende Peet by 074 407 0331 skakel.
Die geleentheid is deur die skrywer se kinders en hul gesinne van oor die land heen, sowel as vriende en belangstellendes bygewoon.



