Besonders trots.
Só meen Sydney Heuvel, ’n werknemer aan Somerset-Wes Primêre Skool (SWPS), wie se dekades lange diens verlede week vereer is met ’n spesiale gebaar wat erkenning gee aan sy merkwaardige pligsgetrouheid en lojaliteit.
’n Nuutgeboude paviljoen by die skool is na Heuvel, wat bykans 40 jaar se uitnemende en legendariese diens aan die skool gewy het, vernoem. “Ek is baie dankbaar vir die hartroerende nalatenskap waarmee ek geseën is,” het die nederige Macassar-inwoner, wat die skool se leuse Nil Sine Labore (niks word bereik sonder arbeid nie) uitleef, gesê.
Heuvel het in ’n terugblik met blydskap herroep dat hy in 1982 as algemene werker by die Helderberg se oudste laerskool aangesluit het. “Dit was heeltemal anders as nou. Ek het in die apartheid-jare by die skool, wat toe vir ‘slegs blankes’ was, begin. Net die algemene werkers was bruinmense. Mnr. Potgieter was die skoolhoof, en mnr. Theron die adjunkhoof. Hulle het my openlik ontvang en ek het my sedertdien lojaal aan die skool toegewy,” het hy vertel.
Heuvel is ná twee dekades bevorder en het van 2003 tot sy vroeë aftrede op 60-jarige ouderdom in 2019 as hoofopsigter gedien. Hy is destyds deur die skool se huidige bestuur genader en hoewel hy ontnugter was oor die besluit wat hom sy salaris en moontlik lewensbestaan sou kos, is hy gevra aan te bly en as algemene werker terug te keer.
Maar, soos passie gekoppel is aan die beroep van elke liewe Summies-personeellid wat as gevolg hiervan verskeie hoede dra, is dit ’n natuurlike liefde vir kinders wat Heuvel laat voel asof hy nooit ’n dag in sy lewe werk nie. “Ek put ongelooflik baie genot uit die leerders. Hulle hou my jonk en aan die gang,” het hy met ’n glimlag gesê.
Benewens die veeleisende take en pligte soos uitgelê in sy posbeskrywing, sal ouers of besoekers hom dikwels raakloop terwyl hy uit eie inisiatief die jonger skoolkinders oor die pad help, die kleingoed vingerswaaiend vermaan om hulle uit die kattekwaad te hou of te verseker dat ’n ieder en ’n elk wat by die skoolhek verskyn, geholpe raak.
Heuvel het ook deel geword van die familie-tradisie wat SWPS oor verskeie geslagte geword het. Maar, soos die harde werker ’n aanwins is vir die gemeenskapsbaken, speel die skoolgemeenskap ook ’n belangrike rol in Heuvel se lewe. Saam deel hulle in die lief en leed. “Die skool was vir my daar toe ek my eerste vrou in 2010 verloor het, en my bygestaan toe ek weer trou beloof het aan my eggenoot, Jolyn. Ek waardeer almal en is veral trots op Mnr. Poole en wat hy as adjunkhoof by die skool bereik het.”
Poole het Heuvel as “baie lojaal” beskryf en gesê dié pligsgetroue werker was al in diens toe Poole in 2006 by die skool aangesluit het. “Die manier wat hy werk aangepak het, was besonders, veral hoe hy die velde met passie versorg het – die foto’s van die atletiekbyeenkomste dui as bewys hiervan. Hy weet wanneer wat gedoen moet word, en ons kan altyd op hom staatmaak,” het Poole, wat as atletiek-organiseerder die verantwoordelikheid vir die voorbereiding van die velde saam met Heuvel deel.
Heuvel is dikwels ook koerier en is die gekwalifiseerde bestuurder van die skoolbus wat leerders vervoer.
Hy bestuur ook nog ’n stel wiele soos niemand anders nie – die trekker. En, volgens Poole, is dít waar die storie agter die storie inkom: Die paviljoen by die nuwe netbal- en tennisbane bied ’n stoorplek waar die trekker gebêre word. Gevolglik het die voorstel om die paviljoen na hom te vernoem, verlede jaar in ’n vergadering met die beheerliggaam opgeduik. Almal het ingestem dat Heuvel die eer verdien. Die nuwe sitplek vir toeskouers is nadat dit voltooi is amptelik tydens voorverlede naweek se Wintersportdag by die skool as die Sydney Heuvel-paviljoen bekendgestel.
“Ek het byna in trane uitgebars,” het Heuvel gesê. “Ek is bly dat ek kan waardeer wat die skool vir my beteken en die skool kan waardeer wat ek vir hulle beteken. Ek is trots op die personeel en dankbaar vir die mense wie hulle is, en hul ondersteuning en liefde.”



