Sersant Desire Adendolf vier vandeesmaand 20 jaar as lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Foto: Rick Marais


Die Macassar-polisie se woordvoerder het pas haar 20ste diensjaar “met ’n passie vir haar gemeenskap” gevier.

Sersant Desire Adendolf merk heel gepas hierdie Vrouemaand (Augustus) twee dekades se sukses as ’n trotse deel van die polisiediens.

Dié 48-jarige is ’n boorling van Worcester en het in 1992 aan Breërivier Sekondêr gematrikuleer. Haar eerste vaste werk was as lid van die voedseldienste-span by Mediclinic in Durbanville.

“Ek het ’n paar casual werkies gedoen voordat ek vas begin werk het. In 1995 wou hulle my vas aanstel by Rainbow Chicken in Worcester, toe sê ek nee. Ek doen toe aansoek vir my eerste vaste werk en ek kry die pos, maar ek het nie ’n idee gehad waar Durbanville is nie,” onthou Adendolf.

Sy en haar familie het toe die pastoor by die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) in die suide van Worcester gekontak en gevra of hy iemand in Durbanville ken by wie sy kan bly.

“Ek het die eerste drie weke by die VGK in Durbanville se pastorie gebly voordat ek ander blyplek gekry het.”

’n Paar jaar later het Adendolf gestaan en wonder hoe sy op 40 met ’n skinkbord in die hand gaan lyk.

“Ek moes koffie en kos aandra en ek kon myself nie in die toekoms in dié pos sien nie. Ek moes net my vlerke sprei.”

Haar bestuurders wou haar net in daardie pos hou en was altyd vol verskonings as sy vir ’n ander pos wil aansoek doen.

“My bestuurder het reguit gesê sy sien nie kans dat ek weggaan nie.”

Adendolf het haar selfoon in 2002 verloor en dit by die plaaslike polisiekantoor aangemeld. Die beampte wat haar gehelp het, het haar ingelig dat poste in die polisiediens oop is.

“In dieselfde asem het die inspekteur my aangekyk en gesê ek lyk te klein en sag en ek gaan dit nie maak nie. Maar hy het my ’n vorm gegee, en ek het dit huis toe geneem.”

’n Paar dae later het een van haar vriende die werk-aansoek-vorm namens haar by die polisie afgelewer.

“Ek het ’n paar weke later ’n oproep gekry dat ek goedgekeur is om by die polisie aan te sluit. Ek was half geskok om die goeie nuus te kry. Toe gaan ek vir al die toetse en die fiksheidstoetse.”

Adendolf is op 1 Augustus 2002 amptelik by die polisie ingesweer. Sy is toe vir drie maande se opleiding na Pretoria opgeroep. “Ons was 40 studente. Die trane het geloop. Ek het die Here gevra of ek dit gaan maak.”

Sy sê dit was omtrent ’n ervaring en sy het baie geleer.

“Ek is daarna na Strand gestuur, waar ek as konstabel begin het.”

Sy is in 2011 tot sersant bevorder en as kommunikasie-beampte, sektorbevelvoerder, slagofferondersteuningswerker, sosiale misdaad- en skoolveiligheidsbeampte by sewe skole na Macassar gestuur, en is deel van die gemeenskapspolisiëringsforum asook die youth desk.

“Ek geniet wat ek doen. Ek kry baie goeie samewerking vanuit die gemeenskap. Ek het onlangs met ’n ma gesels en volgens haar wil haar dogter as gevolg van my by die polisie aansluit.”

Om met die kinders te werk, beteken baie vir haar, want sy weet sy kan ’n verskil in hul lewe maak.

“As jy ’n bestuurderslisensie en matriek het, kan jy kom aansluit. Hier is baie rigtings in die polisie.

“Jy kan ’n rigting volg waaroor jy passievol is,” sluit sy af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article