Wat het die bekroonde Italianer Carmen Clemente en ’n doodgewone jongman van die Kom in gemeen?
Wel, albei het die bewonderenswaardige kreatiewe vermoë om koffie en kuns met ongelooflike patrone in die skuim bo-op ’n koppie boeretroos te kombineer.
Hoewel Clemente spog met die gesogte titel as 2022 se Wêreld-latte-kuns-kampioen, slyp ’n Strand-barista met groot koffiedrome sy talente in dié kuns as ’n dankbare toevoeging tot ’n koffiewinkel in Kusweg, waar hy klante die geleentheid bied om eers met hul oë te drink voordat die werklike koffieplesier geniet word.
Mark Cloete leef al ’n dekade lank sy passie vir koffie uit as toegewyde barista by Vaalkuif Koffie Company (wat eers bekend was as Deja Brew). Die 31-jarige werknemer se liefde vir koffie het begin toe hy tydens ’n jeugkamp verdwyn het. Cloete was toe slegs 11 jaar oud toe hy diep in die nag weggeraak het.
“Ek was vreesbevange, maar ek het onthou toe ons uit die bussie geklim het, het ek die lekkerste koffiearoma gekry. Toe volg ek dié reuk en vind my terug by die gastehuis waar ons die vorige dag afgelaai is. Van daardie dag af glo ek koffie het my lewe gered,” vertel hy.
Cloete meen hy werk nie ’n dag in sy lewe nie, want hy is lief vir wat hy doen. Vir hom is dit die lekkerste om mense se gesigte te sien verhelder wanneer hulle deur ’n warm koppie koffie, waarop sy latte-kunsvaardighede pronk, opgebeur word.
Met slegs die gedagte aan hierdie kosbare genot het ’n vinnige terugblik gevolg en hy herroep hoe hy sy kunstige vaardighede ontdek het toe hy sy eerste cappuccino geskink het. Toe hy die verskuimde melk op die koffie gegooi het, het die gedagte om iets moois daarin te skep hom bygeval.
“Ek vat toe ’n tandestokkie en begin te teken – en mors. Dit was nie perfek nie, maar ek het elke dag al hoe meer en meer prentjies en tonele begin teken.”
Maar, Cloete het nie verniet 10 jaar aan sy passie gewy nie – die jare lange ervaring, gekombineer met sy kunsvaardighede, spoor hom aan om sy groot koffiedroom na te streef. Dié ywerige koffiekenner met ’n besliste liefde vir die bedryf waarin hy werk, hoop om eendag sy eie koffiewinkel op die been te bring. Die sakeonderneming sal nie net sy kuns uitbeeld nie, maar hopelik ook sy eie handelsmerk, wat getrou aan sy unieke styl sal wees.
Asof dit nie duidelik genoeg is dat koffie sy passie is nie, weef hy werk natuurlik by sy persoonlike lewe in. As Cloete nie sy koffie-latte-kunste vir werkdoeleindes toepas nie, doen dié koffiesensasie dit vir belangstellende aanhangers op sosiale media soos TikTok.
“Mense rig gereeld versoeke en vra dikwels vir ’n kat of iets moois bo-op die koffie. Dis vir my lekker om te sien hulle geniet dit so,” spog die barista met groot opgewondenheid oor sy toekomsplanne.
Sy woorde van wysheid vir ander aspirant-baristas is om bereid te wees om heel onder te begin en te kruip voordat jy kan loop.
“Ek het eers vloere gewas en opgeoffer om myself op te werk. Dis harde werk. ’n Jongmens moet aanvaar dat sy werk ’n baie belangrike aspek van sy lewe is. As jy nie kritiek kan hanteer nie, is die koffie-bedryf nie vir jou nie.”




