Die US-rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, by Danielle Kleyn, wenner van die gesogte Kanseliersmedalje vir 2024. Foto: Stefan Els


Danielle Kleyn, wat die “Koningin van wiskunde” gedoop is toe sy by die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes begin skoolgaan het, is as die wenner van die Universiteit Stellenbosch (US) se gesogte Kanseliersmedalje vir 2024 aangewys.

Kleyn het die medalje verlede Dinsdag (10 Desember) by haar gradeplegtigheid ontvang, waar ’n BSc-honneursgraad (HonsBSc) in wiskunde (cum laude) aan haar toegeken is.

Slegs een student ontvang dié prys, wat die eerste keer in 1961 ingestel is. Dit word jaarliks aan ’n finalejaar- of nagraadse student toegeken wat nie net akademies uitgeblink het nie, maar ook op talle ander maniere tot die kampuslewe bygedra en gehelp het om ko-kurrikulêre eienskappe te ontwikkel.

Kleyn se akademiese loopbaan is deur uitsonderlike prestasies gekenmerk.

Sy het ’n onderskeiding vir al haar derdejaarsmodules gedurende haar voorgraadse studie verwerf. Wat hierdie vertoning nog meer merkwaardig maak, is die feit dat sy twee bykomende 16-krediet-modules geneem het. Haar modulepunt vir vyf van die 10 modules was minstens 90%.

Sy het vir haar honneursprojek, wat die bemeestering van ’n aansienlike hoeveelheid algebraïese getalleteorieë en kreatiewe werk behels het om idees van een omgewing na ’n ander aan te pas, ’n fris 94% ontvang.

Kleyn het oor die afgelope vier jaar in nasionale en internasionale wiskundekompetisies uitgeblink. Tussen 2021 en 2024 het sy in die top-10 by die Suid-Afrikaanse Tersiêre Wiskunde-olimpiade geëindig. Vanjaar het sy die eerste plek in dié kompetisie verower.

Sy het in 2023 en 2024 die US en Suid-Afrika by die Internasionale Wiskundekompetisie verteenwoordig. DistriksPos & Helderberg Gazette het oor die jare heen verskeie kere oor Kleyn se prestasie berig, insluitend toe sy twee agtereenvolgende keer die titel as die “Koningin van wiskunde” by die Pan-Afrika-wiskundeolimpiade verower het (“Danielle draf gróót somme kaf”, 27 Augustus 2020).

Kleyn was ook by wiskundenavorsing buite haar HonsBSc-program betrokke, wat afsonderlik van haar honneursprojek was.

As wiskunde-afrigter vir die Suid-Afrikaanse Wiskundestigting kon sy help om ’n sterk kultuur van Olimpiade-wiskunde te ontwikkel.

Sy sê sy het nie verwag om die gesogte medalje te wen nie.

Wiskunde is al baie lank een van haar gunstelingvakke, sê sy, en sy het reeds van skooldae af in verskeie kompetisies uitgeblink. Sy is onseker oor haar planne vir 2025 en Kleyn oorweeg dit om haar meestersgraad te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article