Doodse stilte heers tans oor ’n skietvoorval wat op Maandag 19 Junie in Georgepark, Strand, plaasgevind het waar ’n 41-jarige man op die skiettoneel dood verklaar is.
Op daardie dag was daar egter twee afgebakende misdaadtonele, een in De Kock-straat en een direk voor Strand-brandweerstasie in George-straat waar paramedici besig was om ’n slagoffer wat glo ook geskiet is, se lewe te probeer red (“Doodskoot vir taxi-eienaar,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 21 Junie).
By die toneel in De Kock-straat was ’n splinternuwe grys Ford Ranger afgebaken met polisielint en in die voertuig was Mzwandile Ludida wat omgekom het nadat daar verskeie skote op hom geskiet is.
Volgens die polisie het Ludida ’n besoek afgelê aan Mr T-Bodyworks (’n paneelklopper wat gereeld aan taxi’s werk) om te kyk hoe vorder herstelwerk aan van sy taxi’s toe hy onkant betrap is deur ’n groep manlike verdagtes met vuurwapens.
In ’n video wat op sosiale media die ronde gedoen het kan ’n mens sien hoe ’n wit Ford Ranger verby Ludida se voertuig ry en dan terugstoot. Die voertuig hou stil en drie verdagtes spring uit en skiet verskeie skote op Ludida se voertuig. In die video kan ’n mens ook sien hoe Sibusisu Gwala, wat ten tyde van die voorval langs Ludida gesit het, uitspring en vir sy lewe vlug. Hy is later by die brandweer behandel voor hy Helderberg-hospitaal toe geneem is vir verdere behandeling.
Maar sedertdien is als tjoepstil.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, wat destyds bevestig het dat die voorval ’n taxi-verwante skietery is, noem dat hy geen nuwe inligting oor die saak het nie.
Besuthu Ndungane, Congress of Democratic Taxi Associations (Codeta) se woordvoerder, het by navraag gesê hy wil geen kommentaar gee oor die voorval nie.
“Die ondersoek is nog aan die gang. Totdat iemand in hegtenis geneem word kan ons niks nuuts sê oor die voorval nie,” sê Beukes.



