Dié personeel het diep spore in die skool getrap.
Aan die einde van die jaar groet Somerset-Wes Primêre Skool (SWPS) sy geliefde Afrikaanstaalonderwyser, Eileen du Plessis.
Sy is 15 Mei 1973 by Somerset-Wes Primêr as ’n gr. 7-onderwyser aangestel. Gedurende haar suksesvolle loopbaan van 44 jaar, het sy omtrent alle vakke, behalwe houtwerk, van graad 4 tot graad 7 aangebied.
As departementshoof, het Du Plessis ’n groot bydrae tot die skoolbestuur gelewer.
Sy het uitstekende werk in haar vakgebied gedoen en het deur die jare haarself as ’n dinamiese leier op vele terreine bewys.
Sy sal onthou word vir haar ongelooflike passie in alles wat sy aangepak het.
Sy het haar liefde vir die leerders van Summies ten volle uitgeleef.
Die skoolhoof, personeel, leerders en ouers groet haar met dankbaarheid en wens haar ’n wonderlike aftrede toe.
- Annette de Witt wat 1 Januarie 1994 as tesourier aangestel is, verlaat ook die skool vanjaar.
De Witt het gedurende haar loopbaan van 24 jaar betrokke geraak by verskillende afdelings van die skool se administrasie.
Sy het ’n baie groot bydrae gelewer om stelsels te ontwikkel vir die finansiële administrasie.
Haar waardevolle bydrae tot die finansiële komitee, asook die beheerliggaam, gaan verseker gemis word.
Die skoolgemeenskap en skoolhoof is dankbaar vir haar toewyding en uitstekende diens aan Summies.
- Fransie Kruger verlaat ook Somerset-Wes Primêr aan die einde van die jaar. Sy en haar gesin verhuis na die Paarl, waar sy van 1 Januarie aangestel is as ’n gr. 7-onderwyser by Klein Boishaai.
Haar loopbaan as gr. 4-onderwyser by SWPS, het 1 Julie 2006 begin.
Kruger het waardevolle leiding as graadhoof en senior bestuurslid geneem. Sy het ook haarself uitgeleef op sportgebied, veral in netbal.
Sy het verskeie groot sportgeleenthede by SWPS, asook in die Helderbergkom gereël.
Sy het uitstekende uitslae as netbalafrigter behaal. Kruger het haarself ook onderskei as netbalskeidsregter en het met haar Suid-Afrikaanse netbalgradering ’n groot bydrae in die Helderbergkom gelewer.
Die skoolhoof, personeel en leerders bedank haar vir haar lojaliteit en jare an uitstekende diens aan die skool, en hul beste wense vergesel haar.



