OntmoetDie groot afskudse wenspan, die egpaar Robert en Petronél Mollentze van Strand.


’n Egpaar van Strand, Robert en Petronél Mollentze, is gisteraand (Dinsdag 7 Mei) as die wenners van VIA se gewilde werklikheidsprogram Die groot afskud aangekondig!

Die rooispanlede het met hul deelname oor agt maande saam die meeste kilogramme afgeskud en as die grootste verloorders bo die res geseëvier. Dié trotse ouers van hul sesjarige dogtertjie het as aanhangers van die televisieprogram ingeskryf om beter en gesonder te lewe. Die paartjie, wat al 10 jaar saam is, was onder ses deelnemers wat in drie spanne van twee mekaar vir ’n “stewige” R300 000-geldprys die stryd aangesê het.

“Ons het die vorige reeks gekyk en ek het vir Robert gesê ek wens ons kan so iets doen. Toe ek sien kom die tweede reeks en ek het in Robert se kantoor ingeloop en gesê ek gaan ons nou inskryf. Hy sê toe, ‘O, oukei, lekker! Wat kan ons verloor behalwe gewig’?” het Petronél herroep.

Die 36-jarige kliëntekonsultant het aan die begin van die gesamentlike gewigsverlies-reis op 130 kg ingeweeg en dit haar missie gemaak om die uitdaging aan te pak sodat sy die beste weergawe van haarself vir haar dogter kon word. Robert, wat die skaal op 117 kg getrek het, het die reis as getroue ondersteuner saam met sy vrou aangedurf om hul slegte gewoontes te verander.

Saam het hulle moeilike fisieke, kos- en kook- en ook sielkundige uitdagings met ondersteuning van kenners op elke gebied beleef.

Die fiksheidsafrigter Oliva Losper en haar Livfit-span het hulle die vetrolle laat af sweet en geleer hoe om hul mag terug te vat met oefensessies drie tot vier keer per week, die dieetkundige Minette Röth het hul bloeduitslae ontleed en gehelp met die verandering van leefstylgewoontes en denkpatrone en die sielkundige Dewald Louw het gehelp met die kop-dinge, soos die alledaagse tekort aan motivering.

“Ons grootste uitdaging was om minder sosiaal te verkeer; onsself ’n bietjie te onttrek totdat ons aan die gang was. Ons moes ook die reis vir agt maande stil gehou het, wat nogal moeilik was as iemand jou vra, ‘Sjoe, wat doen julle; julle lyk goed!’,” het Petronél vertel.

Hul plan van gewigsverlies-aksie en hul sleutel tot sukses was om altyd op te daag – met oefening, die goue geheim van kosvoorbereiding op Sondae en mekaar verantwoordelik te hou en te ondersteun.

Hulle het op- en afdae gehad en op ’n slegte dag is die een se mismoedigheid met motivering deur die ander hokgeslaan.

Dié twee het met harde werk om hul gesondheid met ’n gebalanseerde eetplan terug te wen, albei 27,1 kg afgeskud, met Petronél wat 82 cm en Robert wat 55 cm om die lyf verloor het.

“Ons is dankbaar vir die Here wat hierdie geleentheid oor ons pad gestuur het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article