Die Strandse skrywer Judith Vollmer het weer eens met haar welversnede pen aan die werk gespring en spog nou met nog ’n kinderboek wat eersdaags bekendgestel word.
Vollmer is trots om haar jongste boek in die Kyla-kinderboekreeks hierdie Sondag (17 November) by die Krystal Beach-hotel in Gordonsbaai met ’n geldinsamelingsgeleentheid bekend te stel. Die boek, Kyla se Kerswens, volg ná Kyla en die Stad se Kersliggies en Kyla se Winter-Kersfees. Laasgenoemde is in Augustus bekendgestel.
Volgens Vollmer is die reeks geïnspireer deur haar niggie, Kyla Vollmer van Springbok, wat die prentjie van opwinding is en altyd ’n bok vir sports is wanneer ’n nuwe avontuur met hope pret opduik. Met ’n opwinding wat vir Kyla om elke draai in haar grootwordjare lê en wag, vloei daar só ook altyd nog ’n boek uit Vollmer se pen en raak lesers saam met haar ouer en wyser.
Vollmer doen graag ’n beroep op die plaaslike gemeenskap om hul harte oop te maak en haar te ondersteun met kaartjies vir die bekendstelling of geldelike skenkings ter finansiële ondersteuning van ’n gesogte toekenningsgeleentheid waarvoor sy uitgenooi is.
Die geld vir die boekbekendstelling en skenkings sal help met uitgawes vir vliegkaartjies na Gqeberha vir die gesogte Oos-Kaapse Literêre Toekennings, asook die koste van verblyf. Die toekenningsgeleentheid word Saterdag 7 Desember by Amwazi Suid-Afrikaanse Museum van Literatuur gehou, en finansiële bydraes voor die einde van November sal waardeer word.
“Dit is ’n groot eer om uit derduisende skrywers vir die geleentheid benoem te word om erkenning te gee aan skrywers vir hul bydrae tot literatuur,” deel Vollmer.
Die boekbekendstelling vind Sondag om 16:00 plaas, met voorlesing en sang, ’n skouer-skuur-geleentheid met die spesiale gas Theresa Sedras oftewel “Mrs J” van Suidooster-faam, vermaak in lewende lywe deur ’n orkes, vingerhappies en Kersfeeskoekies en gelukstrekkings.
Kaartjies kos R250 per persoon en sluit ’n gratis ondertekende kopie van die boek in.




