In die middel sit Anastachia Booysen met die nuwe toevoeging, Caywin Andrew Claassen, op haar skoot. Links sit Caroline van Rooyen (die pa van haar kind se ouma) en agter haar sit haar eie ouma, Anna Losper. Voor sit en staan Nomkita en Amahle Dyonasi, die twee kinders in die straat met wie se geboorte Caroline jare gelede gehelp het. Foto: Rick Marais


Twee oumagrootjies het verlede Maandag (26 Februarie) saam gewerk om hul agterkleinkind te vang toe sy mamma by die huis geboorte moes skenk – drie dae voor skrikkeldag.

Caroline van Rooyen, ’n oumagrootjie van Rusthof, moes daardie Maandagoggend haar Godgegewe gawe gebruik om haar agterkleinkind te vang toe die jong bulletjie se ma, Anastachia Booysen, begin kraam het en die ambulans nie betyds opgedaag het nie.

“Anastachia het die vorige dag al pyne gehad. Sy het toe ge-‘Macarina Macarina’ en die tyd was naby. Daardie Maandag toe ek van die werk af kom, was dit toe sulke tyd. Ek het eers met ’n buurvrou gestry en haar vertel dat ek nie die kind gaan vang nie, maar sy het my aangemoedig en gesê ‘Nee Caroline, God het jou ’n gawe gegee, gebruik dit’ en toe gebruik ek my gawe as vroedvrou,” vertel van Rooyen.

Sy het jare gelede met twee van die bure se kinders se geboorte gehelp, maar met die geboorte van haar kleinseun se meisie se kind was sy effens onseker van haarself, maar het gedoen wat gedoen moes word.

“Ek sou dit nie sonder Anna kon doen nie. Sy het die naelstring van die baba se nek afgehaal, want toe klein Caywin Andrew Claassen gebore is, was die naelstring om sy nek en een van sy armpies,” onthou Van Rooyen.

Anna Losper, Anastachia, se ouma, het reggestaan om Caroline te ondersteun en het net so gemaak toe sy die naelstring versigtig met haar vingers van die arm en die baba se nek afgerol het.

“Die geboorte was so ’n mooi gebaar. Toe klein Caywin uitkom, het hy dadelik sy koppie gedraai en hy het net daar begin huil. Die Here het ons gedra, want nie ek of Caroline is opgelei vir so ’n geboorte nie, maar ons moes vir Anastachia uithelp, want die ambulans het nie opgedaag nie.”

Sy wys af na die bank binne Caroline se huis waar hulle gesit het en verduidelik dat Anastachia skuins op dieselfde bank gesit het toe sy begin kraam het.

“Ons het komberse en ’n duvet op die grond gepak, want ons was bang die baba val dalk op die grond,” voeg Van Rooyen by.

Ná die geboorte het die twee grootoumas gestres, want die nageboorte was vir ’n uur en ’n kwart nog binne totdat die paramedici opgedaag en oorgeneem het.

“Die paramedikus het my toe gewys hoe om die naelstring te knip, en nou wag ek dat die gemeenskap my instem as ’n vroedvrou, want ek is reg om nog babas te help vang,” verduidelik Van Rooyen.

Booysen het haar eie ouma (Anna) asook haar kêrel se ouma (Caroline) bedank vir hul hulp om met die geboorte van Caywin, haar derde kind, te help.

“Al my vorige geboortes was in die hospitaal, maar dié een was werklik ’n wonderwerk,” meen Booysen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article