Een van die wonings in Morkel’s Cottage wat omgewaai is deur die wind vroeg Sondagoggend (7 April).


’n Groep inwoners wat die begin van die jaar van Eagle Bar-informele nedersetting na Morkel’s Cottage naby Boundaryweg moes trek, sit nou in sak en as nadat 22 van hul nuut-geboude strukture die naweek deur sterk wind platgewaai is.

George Watkins, ’n inwoner van Morkel’s Cottage, wat self ook skade gely het toe ’n stuk van sy dak weggewaai het, vertel die wind het Sondag 7 April om 03:00 sterk by hulle begin waai en van sy bure het alles verloor.

Watkins was verlede jaar deel van 60 inwoners van Eagle Bar- informele nedersetting in Brewery-pad, Weltevreden, wat in Desember die nuus ontvang het dat hulle moet trek. Die inwoners is materiaal belowe waarmee hulle hul huise kon herbou en die materiaal is aan hulle verskaf (“Inwoners sal moet trek, of…”, DistriksPos & Helderberg Gazette, 13 Desember).

“My hart gaan uit na die mense hier wat alles verloor het. Hulle het niks oor nie. Die mense hier is baie ongelukkig, want Maandagoggend was hier nog ’n kragdraad op die grond wat baie onveilig is vir die gemeenskap,” vertel Watkins.

Chantal Cerfontein, Wyk 85 se raadslid, het bevestig dat Ramp- en-Risikobestuur in Morkel’s Cottage en ander gebiede waar mense se dakke weggewaai het en wonings heeltemal inmekaar gestort het, gereageer het.

“Die nooddienste het ook in Morkel’s Cottage gereageer, want verskeie mense het glo beserings opgedoen,” sê Cerfontein.

Twee inwoners van Morkel’s Cottage, wat verkies het om anoniem te bly, is nie baie tevrede met die Stad Kaapstad se besoeke aan hulle ná die verwoesting nie.

“Die Stad se mense vat nie eens notas nie. Die hooggeplaastes kon TikToks van hulself neem, maar hulle behandel ons nie reg nie,” vertel die een inwoner.

Die tweede anonieme inwoner is ook ontevrede, want sy vertel Geordin Hill-Lewis, die burgemeester van Kaapstad, het Maandag net kom kyk by die voorste inwoners in Morkel’s Cottage wie se dakke afgewaai het, maar dié wat verder agter woon, is glad nie besoek nie.

“Ek hoop hulle help almal met dakplate en materiale en nie net die mense wat aan die voorkant woon nie,” sê die anonieme inwoner.

Volgens Cerfontein het die burgemeester geen beloftes kom maak tydens sy besoek nie.

“Sy hoofdoel was om die skade te kom assesseer en om te help waar hy kan.

“Geaffekteerde inwoners sal met materiale gehelp word om [hul wonings] te herbou en ons as die gemeenskap sal help met kos waar moontlik,” voeg Cerfontein by.

Geordin Hill-Lewis, die burgemeester van Kaapstad, het Morkel’s Cottage besoek om die skade te gaan assesseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article