Inwoners en besoekers in die Strand moet vir hul eie veiligheid uit die see bly tot die Stad Kaapstad rioolbesoedeling in die gebied ondersoek het.
Die Stad het op Nuwejaarsdag in ’n dringende kennisgewing aangekondig dat ’n gedeelte van die strandgebied in die Strand tot verdere kennisgewing gesluit sal wees weens rioolbesoedeling wat moontlik die publiek se gesondheid in gevaar mag stel.
Volgens die kennisgewing is die sluiting slegs ’n voorkomende voorsorgmaatreël terwyl die rioolstorting ondersoek word. Kontak met die water kan gastro-intestinale gesondheidskwessies soos diarree veroorsaak.
Die Deep Blue-gedeelte van die kuslyn in Strand, maar ook ’n deel van die strandgebied in Blaauwberg is sedert 1 Januarie gesluit weens rioolbesoedeling.
Die Stad se mediakantoor het in sy skrywe gesê watermonsters sal deurlopend geneem word tot die water weer binne die minimum aanvaarbare waterkwalititeit-vereiste vir ontspanningsaktiwiteite soos bepaal deur die Nasionale Waterkwaliteitriglyne is.
Kennisgewingborde is by die genoemde strandgebiede opgerig en mense wat besluit om daar te gaan swem doen dit op hul eie risiko.




