Die Strand-polisie en -GPF vergader vandeesweek om te kyk hoe hulle winkeleienaars kan help wat deur bendelede geteiken word vir “beskermingsgeld” om oop te bly om sake te doen. Foto: Rick Marais


Gerugte oor ’n nuwe misdaad-neiging het die ronde begin doen waarin beweer word Somaliese winkels in sektor 1 van Strand word glo geteiken om “tax”, oftewel beskermingsgeld, aan bendes te betaal om sake te doen.

Gerugte doen al die afgelope paar maande die ronde dat Somaliërs met winkels in sektor 1 deur bendes afgedreig word om beskermingsgeld te betaal.

Dié gerugte het die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) genoop om verlede Donderdag (22 Junie) met verskeie rolspelers asook lede van die Strand-polisie te vergader om die tendens te bespreek.

Volgens Niklaas Thysen, ’n woordvoerder van die Strand-GPF, is ’n vergadering juis vir later vandeesweek gereël om te kyk na aksieplanne en om die probleme te identifiseer wat tot dié vorm van afdreiging lei.

DistriksPos & Helderberg Gazette het drie eienaars van algemene handelaars in sektor 1 vir kommentaar oor die gerugte genader. Een van die eienaars het ontken dat hy enigiets daarvan weet.

Die ander twee eienaars wou nie hul name genoem hê nie en wou nie uitpraat oor die aangeleentheid nie.

“Ek wil nie hieroor praat nie. Ek kan niks sê nie,” was een van die eienaars se woorde.

Apostel Manfred Jumat, ’n gemeenskapsleier van Broadlandspark, sê hy wil ook nog agter die kap van die byl kom.

“Dit is ’n probleem, want dis iets wat gewoonlik in die Kaap gebeur, maar nou gebeur dit hier ook,” sê Jumat.

“Ons het ’n kleiner gemeenskap, en as sulke dinge in ons gemeenskap gebeur, is dit ’n enorme probleem.

“Dit wys die uitwerking van en houvas wat bendes en wie ook al op die winkeleienaars het, en hoe diep hulle (die vermeende afdreigers wat dit doen) hulle ingegrawe het om die afdreiging met soveel arrogansie te doen.”

Lillian Albertyn, die Strand-GPF se buurtwag-koördineerder, sê hulle wil al die winkels in sektor 1 help om by die sakeforum aan te sluit en om hulle geregistreer te kry.

“Ons wil dié soort misdaad uitroei,” voeg sy by.

Thysen bevestig die GPF werk tans aan ’n aksieplan, wat daarop gemik is om veiligheid by spaza-winkels uit ’n gemeenskapsveiligheidsoogpunt te verskerp.

“Die GPF in samewerking met wetstoepassers beoog ook om sekere regulasies oor wetgewing in te stel sodat die winkeleienaars in sektor 1, wat so geteiken word, teen dié soort misdaad beskerm kan word.”

Hy bevestig die GPF gaan met die onderskeie Somaliese winkeleienaars in gesprek tree om na hul klagtes en griewe te luister. “Ons gaan ook met die gemeenskap praat om te hoor hoe hulle geraak word,” voeg Thysen by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article