’n Diereliefhebber wat haar stem namens viervoetige vriende en hul welstand verhef, doen ’n beroep op die gemeenskap vir skenkings om ’n naaimasjien te bekom sodat sy verder kwesbare diere in haar woongebied kan help beskerm en versorg.

Yolanda van Rhyn, ’n inwoner van die Strandse woongebied Onverwacht, het besluit om op te tree ná verskeie beweerde voorvalle waarin diere in haar woonbuurt doodgery is, deur ’n petisie te begin vir spoedhobbels in Boschstraat (“Inwoners pleit vir spoedhobbels”, DistriksPos & Helderberg Gazette, 7 Februarie).

Van Rhyn het haar vroeër vanjaar weens die situasie tot die koerant gewend met ’n dringende behoefte aan spoedbeperkende maatreëls om verdere ongelukke te voorkom. Sy het ’n petisie opgestel wat deur ongeveer 30 inwoners onderteken is as ’n pleidooi aan die raad om spoedhobbels in die straat aan te bring. Die subraad 8-voorsitter en raadslid Chantal Cerfontein het destyds bevestig dat sy die petisie ontvang het en stappe gedoen is om spoed-kalmerende maatreëls te oorweeg.

Van Rhyn se aksie stop egter nie hier nie. Dié diereregte-aktivis sit nou skouer aan die wiel om hopelik haar naaldwerk­vaardighede tot voordeel van die welstand van viervoetige vriende in te span. Sy wil bykomstighede maak om te verkoop sodat sy mede-gemeenskapslede kan help om kos, komberse en noodsaaklike mediese versorging soos inenting, ontwurming en sterilisasie te verskaf.

  • Enigiemand wat hul hart en beursie vir Van Rhyn en haar doel wil oopmaak, kan haar by 076 342 6832 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article