Marquin Smith pronk nie net met ’n debuutboek nie, maar ook die onwrikbare ondersteuning van sy familie. Agter van links is Jeremy Jonkers, Megan Smith, Loretta Smith, Heather Smith, Lizelle en klein Joheine Jonkers. Voor: Kayl en Keleisha Jonkers. Foto’s: Jamey Gordon


Die Strandse tiener Marquin Smith het die afgelope Saterdag (15 Julie) met ’n spoggeleentheid by die Knorhoek-landgoed in Sir Lowry’s Pass sy debuutboek,Die pad na ’n toekoms, bekend gestel.

Die 15-jarige Hoërskool Strand-leerder het die mylpaal saam met familie, vriende en spesiale gaste, onder andere die plaaslike kinderboekskrywer Judith Vollmer, wat met sy skryfproses gehelp het, tydens ’n deftige ete by The Manor House gevier. Die geleentheid is deur die seremoniemeester Rehard Smith geopen en besoekers is hartlik deur die trotse familielid Jeremy Jonkers verwelkom en ’n spesiale gebed is deur John Jack opgedra.

Onder die gassprekers was Xavier Williams, ’n onderwyser by Marquin se alma mater Dr. G.J. Joubert Primêre Skool, wat die tienerseun as ’n voorbeeldige jongman beskryf het. Williams het meegedeel dat Marquin as 12-jarige leerder in sy klas al onthul het dat hy ’n “man van baie woorde” is en die potensiaal uitgestraal het om hoë hoogtes soos sy skrywer-droom te verwesenlik.

“Marquin, jy is ’n baken van hoop vir baie kinders,” het Williams gesê. “Baie geluk! Ons vertrou dat die laaste hoofstuk van jou boek slegs die begin van vele ander sal wees. Bou voort op dié sukses.”

Edwina Jack het op haar beurt gespot en gesê dat hulle onder die indruk was dat Marquin eendag ’n werktuigkundige soos sy geliefde en wyle oupa, Harold, sou word – “want nes jou oupa sy kar aangeskakel het, was jy in die voorste passasiersitplek”.

Jack het in ligte luim meegedeel dat hulle aanvanklik verras was toe hulle hoor dat Marquin ’n boek sou skryf en dit wat die Here op sy hart gelê het, sou neerpen. “Marquin, jy het dié hoë hoogte bereik. Dit was nie maklik nie, maar moontlik danksy jou deursettingsvermoë en die Here wat saam met jou die pad geloop het. Ons salueer jou! Ons wens jou alles wat mooi en geseënd is toe.”

Oor wat hom geïnspireer het om ’n boek te skryf, het Marquin vertel dat hy die besluit geneem het om mense deur sy lewensreis te motiveer om na nuwe hoogtes te mik. “My boek handel oor die wedloop na ’n suksesvolle toekoms, hoe jy as jongeling die regte besluite kan neem asook hoe jy die voetspore kan ooptrap vir jou ewebeeld in die volgende generasie. Ek gee vir jou my storie asook die sleutel na die deur, jy moet dit net neem en die deur oopsluit,” verduidelik hy. “Ek wil dié boodskap oordra: ‘Dit maak nie saak uit watter omstandighede jy kom nie, net dat jy die regte pad en vir God deur wie alles moontlik is, kies’.”

Die boek het Marquin omtrent een jaar en ses of sewe maande geneem om vas te lê. As kranige atleet en rugbyspeler wat as agterspeler in SA skolerugby uitblink, is sy skryfwerk tussenin onderbreek. Maar, ’n besering wat hom vir ’n tydperk buite aksie gelaat het, het hom toegelaat om opnuut op sy skryfwerk te kon fokus. Die boek bestaan uit 10 hoofstukke met die eerste drie wat insig bied in wie Marquin is. Wat die boek so merkwaardig maak, is dat hy sy storie, seer en sukses met lesers deel.

Hy het in ’n toespraak sy dankbaarheid vir die onwrikbare ondersteuning van sy enkelma, Heather Smit, asook sy ouma Loretta en wyle oupa Harold, wat sy vaderfiguur was, uitgespreek. ’n Emosio­nele Heather het haar trots by die geleent­heid met hartroerende woorde gedeel. Die boek, wat deur Groep 7-uitgewers gepubliseer is, sal aanlyn of by Marquin self beskikbaar wees. Bel Marquin by 082 680 3845.

Die jong skrywer het die mylpaal saam met sy vriende en mede-leerders aan Hoërskool Strand, Na-eem Adams, Corné Dreyer, Michael Ruzvidzo, Kyle Steyn en Justin Heyman.

Marquin Smith en die skrywer Judith Vollmer met getekende kopieë van sy boek.

John Jack het tydens die geleentheid ’n gebed opgedra.

Rehard Smith het as seremoniemeester gedien.

Jeremy Jonkers het gaste verwelkom.

Marquin Smith saam met Dr. G.J. Joubert Primêre Skool-onderwysers Xavier en Chrystal Williams.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article