Lt.kol. Franklin Plaatjies, speurhoof by Strand-polisie (voor regs), saam met die speurtak en kol. Khunjulwa Khanyile, stasiebevelvoerder (voor links). Foto: Rick Marais


In ’n stadium het dinge hopeloos gelyk by die Strand-polisie, maar met sy terugkoms het lt.kol. Franklin Plaatjies, speurhoof by Strand-polisie, gewys dat hy en sy speurspan raakvat toe hulle onlangs as die beste speurders landswyd en in die Wes-Kaap vir April en Mei aangewys is.

Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Strand het verlede jaar sy misnoeë uitgespreek oor die Strand-polisie se besluit om lt.kol. Franklin Plaatjies by ’n informele nedersetting in Khayelitsha te herontplooi. Plaatjies het vir baie jare pligsgetrou die gemeenskap, wat geteister word deur skietvoorvalle waarin veral jongmense geëis word, gedien en eindelose moeite oor die bestek van jare gedoen om vertrouensverhoudings met gemeenskapslede te bou. Hy het gehelp om hierdie geweld te bekamp en veiligheid in die gemeenskap te bevorder (“Polisie laat bal val,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 31 Maart 2022). ’n Paar maande hierna het Plaatjies weer aangesluit by Strand-polisie en dinge het weer klopdisselboom begin loop by die kantoor as dit by ondersoekwerk kom.

Volgens AO Nico Beukes, woordvoerder van die Strand-polisie, het die kantoor se speurtak vir die 2023-boekjaar (April en Mei) ’n gradering vier, menende 85,98% behaal.

“In April was die speurtak eerste nasionaal, asook eerste op provinsiale en distriksvlakke. In Mei was die speurtak eerste in die distrik en provinsie en vierde nasionaal,” sê Beukes.

Kol. Khunjulwa Khanyile, bevelvoerder van die Strand-polisie, het die speurtak vir sy veelsydige prestasies geprys en Plaatjies vir sy span se uitmuntende werk, hul toewyding en spangees bedank.

Volgens Khanyile kan die speurtak se suksesse toegeskryf word aan die gesonde verhouding tussen die sigbare-polisiëringsbeamptes en die speurtak.

“Ons werk nie in isolasie van mekaar nie, maar as ’n span. Die vertroue in mekaar kan daaraan toegeskryf word dat die polisiebeamptes soveel positiwiteit in hul werk insit,” verduidelik sy.

Plaatjies en sy span werk ook goed saam met die wetstoepassers, metropolisie, buurtwagte asook verskeie rolspelers insluitend Strand-GPF wat Plaatjies geprys het vir sy harde werk en toewyding.

Niklaas Thysen, woordvoerder van die Strand-GPF, het van die geleentheid gebruik gemaak om Plaatjies te prys vir sy speurtak se merkwaardige prestasie asook toekennings in verskeie kategorieë wat insluit nommer een in die provinsie asook nommer een op distriksvlak asook nasionaal.

“Lt.kol. Plaatjies het met sy terugkeer in sy pos by Strand-polisie as speurhoof dienslewering en ondersoeke merkwaardig verbeter. Hy het ook ’n goeie samewerkende verhouding bewerkstellig met Strand-GPF asook die verskeie veiligheidstrukture. Dit het gelei tot die verbetering van die polisiekantoor se ondersoeke en goeie verhoudinge met die breër gemeenskap, wat ons as absoluut merkwaardig beskou,” sê Thysen.

Volgens die stasiebevelvoerder het die polisiekantoor se oopdeurbeleid en Plaatjies se speurtak se harde werk gehelp dat Strand-polisie operasioneel in April en Mei so goed presteer het.

“Ons het ’n doeltreffende misdaad-voorkomingseenheid wat aaneenlopend presteer en mense in hegtenis neem,” sluit Khanyile af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article