’n Klein skoonheidskoningin van Strand is een tree nader aan haar groot droom om eendag die gesogte titel as Mejuffrou Suid-Afrika te dra en haar eie kinderhuis op die been te bring.
Die sewejarige Royalty Brown van Broadlandspark is Sondag 25 Maart by ’n glansgeleentheid in Pretoria as die 2024 Klein Mejuffrou Suid-Afrika, Klein Mejuffrou Wes-Kaap Suid-Afrika en Klein Mejuffrou Heelal Suid-Afrika gekroon. Die laasgenoemde titel bied die talentvolle skone die geleentheid om in Mei om die Klein Mejuffrou Heelal-kroon mee te ding.
Sy het ook verskeie spesiale pryse ingeryg, insluitend onder meer die beste in ’n onderhoud, die beste loopplankvaardigheid, die beste aandrok, die beste temadrag en Mej. Gemoedelikheid.
Volgens haar ma, Virgenay Scholtz, is Royalty baie opgewonde oor haar prestasie, want die harde werk wat sy in aanloop tot die kompetisie gedoen het, het werklik vrugte afgewerp. Volgens dié trotse ouer het haar pragstukkie die ekstra klasse en afrigting deur Tiffany-Amber Models, wat gehelp het om haar loopplank- en onderhoudvaardighede te slyp, fluit-fluit gedoen en dit tot haar voordeel gebruik.
“Sy het haar deelname baie geniet en nuwe maatjies uit ander provinsies gemaak,” deel Scholtz.
“My beker loop oor van trots en dankbaarheid.”
Sy deel verder sy het geweet waar Royalty se passie lê omdat sy op die ouderdom van agt maande in die plaaslike skoonheidskompetisie uitgeblink het. Benewens die sigbare blydskap wat baba Royalty tydens die Klein Mejuffrou Sonskyn-skoonheidskompetisie uitgestraal het, het sy as kleuter al van mooimaak-sessies gehou en dit nog altyd geniet om haar lyf model te hou.
“Royalty het ’n bewonderenswaardige selfvertroue, deernis vir haar medemens en begeerte om terug te ploeg in haar gemeenskap – eienskappe wat, benewens haar natuurlike skoonheid, haar ’n ideale deelnemer aan skoonheidskompetisies maak.”




