Owerhede fynkam die toneel waar ’n vrou in die parkeergebied by die munisipale gebou in Strand doodgeskiet is. Die slagoffer is kort nadat sy by die werk aangekom het deur ’n gewapende man geteiken wat deur die venster aan die bestuurderskant op haar losgebrand het.Foto: Jamey Gordon


Die nuwe werksweek het Maandagoggend (8 Januarie) op ’n somber noot afgeskop toe die weduwee van ’n taxi-eienaar wie se lewe verlede jaar in ’n vermeende taxigeweld-verwante skietmoord geëis is in haar voertuig by ’n parkeergebied in Strand afge­maai is.

Twee mans, 26 en 47, is in die vroeë oggendure van Dinsdag 9 Januarie ná ’n soektog in Khayelitsha in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Die vrou het na bewering in ’n koeëlreën gesterf nadat daar glo verskeie skote op haar voertuig wat by die munisipale gebou op die hoek van Faganstraat en Hoofweg geparkeer was, afgevuur is. Die 41-jarige se lewelose liggaam is kort ná die skietvoorval in die gryskleurige Toyota Fortuner aangetref.

Luidens ’n polisieverslag wat kort ná die voorval saamgestel is, het die skietvoorval kort ná 08:00 in die sentrale sakekern afgespeel. Die voorval wat deur owerhede bestempel word as nog ’n moontlike taxigeweld-verwante aanval, het skokgolwe deur die breër gemeenskap gestuur en handel dryf in die gebied tot stilstand geruk.

Met DistriksPos & Helderberg Gazette se aankoms was owerhede in groot getalle reeds op die toneel waar ’n groot skare in ongeloof en uit nuuskierigheid om die afgesperde gebied oorkant die munisipale kantore saamgedrom het.

Die verslag het onthul dat die oorledene – wat geïdentifiseer is as Bongeka Irene Bidi en glo in die Kaapstad-metro se departement omgewingsgesondheid gewerk het – kort nadat sy in die parkeerplek stilgehou het deur ’n skieter geteiken is. Bidi, wat in die munisipale gebou werk, was ten tyde van die skietaanval alleen in die voertuig toe die verdagte in ’n groen baadjie en swart mussie toesak en te voet die motor nader. “Hy het twee vuurwapens uitgehaal en verskeie skote deur die venster aan die bestuurskant geskiet. Die oorledene is in die bolyf en kop gewond,” lui die polisieverslag.

“Die verdagte het in die rigting van die busstop van die toneel weggeloop voordat hy in ’n wit Opel Astra met ’n CA-registrasie gevlug het.”

Die slagoffer wat glo ná haar man se skietdood in die Oos-Kaap sy taxi-besigheid geërf het en as eienaar verbonde aan die taxivereniging Codeta Grabouw voortgesit het, is op die toneel dood verklaar.

Die Strand-polisie het beslag gelê op ses 9 mm-patroondoppies en ondersoek ’n saak van moord.

Die twee verdagtes is ná ondersoek deur die polisie by ’n huis in Khayelitsha vasgetrek. Volgens AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het die registrasienommer van die Opel Astra hulle tot by ’n huis in Khayelitsha gelei. “Die geregistreerde eienaar het verduidelik dat sy die voertuig aan ’n man verkoop het, en die voertuig is nog nie deur hom geregistreer nie. Verdere inligting het die beamptes na ’n ander huis in Khayelitsha gelei, waar die twee verdagtes net ná 04:00 in hegtenis geneem is.”

Beukes voeg by dat die 47-jarige man, wat glo die wegryvoertuig bestuur het, met ondervraging sy betrokkenheid by die skietvoorval bekendgemaak het.

Die twee mans verskyn vandag (Woensdag 10 Januarie) in die Strand-landdroshof.

Subraad 8 se voorsitter, Chantal Cerfontein, het ná die voorval gesê dat die munisipale kantore weens die skietmoord vir die res van die dag (Maandag) gesluit sou wees en versoek dat die publiek die gebied moet vermy.

Bedrywighede by die Strand- munisipale gebou is Dinsdag weer hervat.

Die Codeta-woordvoerder Andile Khanyi het namens die taxivereniging hul hartseer uitgespreek oor die sinnelose moord wat na bewering vier kinders wees laat. Khanyi het ontken dat die voorval taxi-verwant is. Hy het bygesê die vereniging veroordeel sulke geweld en hoop dat die verdagtes aan die pen sal ry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article