Owerhede, insluitend nooddienspersoneel van Gordonsbaai Sekuriteit en hul ambulansdienste, het op die skietvoorval reageer.Foto’s: Jamey Gordon


Die Strand-polisie se ondersoek ná die skietmoord op ’n middeljarige vrou, wat koelbloedig en helder oordag in die openbaar deur ’n onbekende skieter uitgewis is, duur voort.

Niemand is nog in verband met die wrede skietaanval, waarin die 58-jarige van Allan Boesak Village geteiken is, in hegtenis geneem nie.

Die noodlottige skietvoorval het verlede Dinsdag (14 November) kort ná die middaguur oorkant die vulstasie in ’n bedrywige deel van die Onverwacht-woongebied afgespeel toe ’n genadelose skieter op die slagoffer losgebrand het.

Die toneel waar die 58-jarige slagoffer van Allan Boesak Village deur ’n man geskiet is en aan twee kopwonde beswyk het.

Luidens ’n polisieverklaring is owerhede en nooddienspersoneel om 12:25 na die toneel ontbied. Met hul aankoms is die slagoffer aangetref waar sy op ’n grondpaadjie langs die heining van Strand Sekondêre Skool aan twee sigbare skietwonde aan die kop beswyk het. DistriksPos & Helderberg Gazette het in ’n aanlyn weergawe van die gebeure aanvanklik berig dat die slagoffer glo saam met haar stiefseun van die nabygeleë Broadway Square-winkelsentrum deur die oop veld langs Broadway-boulevard huis toe geloop het. Dié inligting, wat kort ná die voorval deur owerhede verskaf is, was verkeerd – die slagoffer het alleen van die winkelsentrum af gestap.

Hoewel die polisie vandeesweek gerugte dat die voorval dalk bendeverwant is weerlê het, het ’n woordvoerder na aan die saak wel bevestig dat die slagoffer ’n vermeende sjebien-eienaar is en vermoedelik in verband hiermee geteiken is.

Beeldmateriaal wat verkry is, wys glo hoe die gewapende man met ’n bedekte gesig verby twee vroue beweeg om by die vrou uit te kom. Dit wys ook glo hoe hy haar nader en op kort afstand op haar skiet. Die slagoffer het ’n sigbare skietwond aan die voorkop opgedoen en een koeël het haar in die mond getref.

Die skieter het ná die voorval te voet van die toneel af gevlug.

Die slagoffer is op die toneel dood verklaar en die verdagte is steeds soek.

Met die koerant se aankoms op die toneel was die lyk reeds toegegooi en het die gruvoorval reeds ’n skare nuuskieriges, onder wie kinders, gelok.

AO Nico Beukes van die Strand-polisie het met sy aankoms die kinders en ouers met jongelinge versoek om die grutoneel vir hul eie beswil te verlaat of verder weg te staan.

Die Strand-polisie se AO Nico Beukes versoek vingerswaaiend dat kinders en ouers met kleingoed wat in die skare om die toneel saamgedrom het, die gebied moet verlaat of verder terugstaan.

Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartement, het leerders die hoërskool deur ’n ander uitgang verlaat om te verhoed dat hulle aan die toneel blootgestel word.

“Die departement het ondersteuning, waaronder berading, aan leerders gebied, maar weens die groot aantal leerders wat ondersteuning benodig, kon die skoolberader help.

“Onderwysers is daaraan herinner om van die departement se gesondheids- en welstand-werknemersblitslyn gebruik te maak vir beradingsondersteuning, maar nie een van die personeel het gesê hulle is geraak nie aangesien hulle nie op die toneel was nie,” het Hammond gesê.

Abigail Goodman, ’n woordvoerder van die groep Strand Community Concern, het gesê hulle betreur die skielike en wrede heengaan van die slagoffer. “Ons is erg omgekrap oor wat gebeur het. Ons het verlede Donderdag (16 November) ons medelye aan haar naasbestaandes met ’n besoek aan die familie betuig.

“Geweld teen vroue en kinders is iets wat die gemeenskap nooit ligtelik kan of gaan opneem nie. Dit sal nooit aanvaarbaar wees nie en ons kan net hoop dat die skuldige aan die pen sal ry,” het Goodman gesê.

Volgens die polisie is die slagoffer nie tydens die raaiselagtige skietvoorval van haar besittings beroof nie en word die motief as deel van die moordsaak ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article