Hy sit op ’n bank in sy huis in Rusthof. Die son kruip-kruip so agter die kant van sy kop uit. Hy is Strand se oudste visserman en min mense ken die see so goed soos hy.
“Eric Stewart,” sê die 81-jarige oom trots, en steek sy hand uit na my toe.
“Of jy kan my ‘Oupa’ of ‘Skipper’ noem, dis hoe die manne hier my ken,” voeg hy.
Stewart sit met sy hande rustend op sy knieë terwyl sy vrou, Gamieda, kos voorberei in die kombuis. Die reuk kruip verby my neus en terwyl ek so sit en dink aan wat die tannie maak, toe ruk die oom my terug in die hede in: “Ek is gebore in Strand. Toe ek sewe jaar oud word, toe kan ek nie meer skoolgaan nie. Ek het ’n besering opgedoen en ek was in die hospitaal tussen die ouderdomme van sewe en agt.”
Ek wil nog vra, maar Oupa is my een voor en hy trek sy broek se pyp op en wys my die sny aan sy been.
Op die ouderdom van 12 jaar het hy al tien operasies agter die rug gehad met die been van hom.
“Ek het begin visvang op die ouderdom van 13. Ek was saam my pa see toe. Ek wou nie meer skool toe nie. My ma wou nie gehad het ek moes see toe nie. Maar my pa het haar aangemoedig en gesê dat sy my moet los dat ek visvang. Hulle kon my nie slaan nie, want ek het mos ’n besering opgedoen. ‘Laat die klong see toe gaan’, was my ma se woorde.”
Hy het die skool verlaat, sy eie oil-skin broek gemaak en begin visvang saam sy pa.
“Van kleins af was ek lief vir die seewater. Ek het elke dag my pa se lyne vir hom drooggemaak. Hulle het destyds na dié verwys as die bloedlyn. Hulle het die vislyn gespan en dan smeer mens hom met dierebloed wat mens van die abattoir af gekry het. Daai ou tou-lyn is gesmeer. Daarna gooi mens dit in ’n visblik. Dan moet dit gestoom word. Daarna word hy uitgehaal en dit lê dan in die son en word droog voor mens dit weer oprol,” verduidelik Stewart.
Dag in en dag uit moes hy sy pa se vislyn so versorg en sy vis-kissie vir hom regkry.
“My twee oupas en my een oom was almal visvangers. My pa se pa het sy eie boot gehad. Sy naam was Willie. Só het ek met die vis begin.”
Oupa het met die bloedlyne begin vang, daarna het die nylon-lyne ingekom.
“Ek is nou die oudste visserman in Strand. Die ander spanne wat gekom het, het lank na my gekom. Ek het begin vang toe ‘karwyers’ nog per perdekarre Strand se vis gaan aflaai het by plase in Elgin en so.”
Hy vertel tydens die jare het hy geleer dat visse soos geelbekke se grootte verskil oor die jaar.
“Sekere maande was hulle klein. Ander maande dan vang mens weer groot visse. Maar die visse wat ek met die hand gevang het, het ons huishouding aan die gang gehou.”
Sy lewe was al twee keer in gevaar op die see.
“Die eerste keer toe gaan ons see toe by Gordonsbaai. Ek was so 18. Ons vaar toe buite Gordonsbaai en so 10:00 toe steek die suidooster op. Die wind skree toe ‘Hierso is ek!’ en dit begin hard te waai,” onthou hy.
Die skipper het destyds vir sy pa ingelig dat hy die enjin van die boot moet afsit en toe die wind so begin waai, toe kan die enjin nie aan die gang gebring word nie.
“Ons het die skipper voor die tyd gevra waar is sy slinger, die ding wat mens die enjin aan die gang mee kry as die battery doodgaan. Hy het nie een op die boot gehad nie. Daar sit ons en die wind waai en ons kan nie beweeg nie.”
Daardie tyd was die hawemeester ene Daggie Fareed.
“Daggie het sommer daar naby die hawe gebly. Hy het ons daardie dag kom red. Hy het eers vir ons gaan soek in Hangklip. Ons het al ons fakkels opgeskiet en ons was moedeloos. Ons vat toe ’n blik met diesel en gooi lappe in en steek dit aan die brand. Ek sê toe vir die manne daar kom ’n boot aan. Toe kom Daggie. Ons moes die anker se tou net so afsny en toe kom sleep Daggie vir ons in.”
Hy onthou die boot wat hul gered het se naam was Black Marlin.
“My familie het daar by die hawe laat die nag vir ons gewag. Hulle het gehuil. Hulle het gedink ons was dood. Die uitstappie was darem nie verniet nie, want ons het in die eerste halfuur (of soos hul dit noem die ‘eerste anker’) die boot al vol gevang.”
Oupa het al ’n paar keer sy lewe amper só verloor, maar hy verduidelik dat hy steeds see toe gaan met geloof. Hy kyk eers hoe waai die wind voor hy die land verlaat.
“Die mense is altyd verstom as hulle saam my uitgaan. Ek gebruik nie die fishfinders en so nie. Ek kyk met my oog en ek onthou in my kop wat ek gesien het. Ek onthou my merkers so. Ek vertel altyd die manne dat hulle nie so op die tegnologie moet vertrou nie. Hulle moet kyk en al hul merkers onthou,” vertel hy.
Visvang het oor die jare verander en Oupa wat nog dinge op die ou manier doen maan jongmanne aan om eers te gaan leer en vir hulself ’n geleerdheid op te bou met ’n goeie werk voor hulle begin visvang.
“As die jongmanne genoeg geld het, met stabiele werk, dan kan hulle ’n boot koop en oor naweke vis gaan vang. Maar mens kan nie meer deesdae, soos ons destyds, ’n beroep maak uit visvang nie. Die lewe het te duur daarvoor geraak.”




