Engelkind Maxwell Jnr. Williams het Saterdag (25 November) in ’n swembad by ’n plaaslike landgoed verdrink.

Credit: SYSTEM

Wat vir ’n ouma en haar kleinkinders ’n daguitstappie vol genot by ’n plaaslike landgoed sou wees, het in ’n nagmerrie ontaard toe die jongste uit die kroos die slagoffer van ’n waterdood geword het.

Die Somerset-Wes-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die tweejarige seuntjie die afgelope naweek op ’n Sir Lowry’s Pass-landgoed verdrink het. Die peuter, Maxwell Jnr. “MJ” Williams van Strand, het Saterdag (25 November) sy engelvlerkies gekry toe hy blykbaar in ’n swembad op die perseel beland het. Hoewel ’n polisieverklaring aandui dat die kleintjie glo langs die swembad gesit het toe hy ingeval het, vertel sy bedroefde ouers, Julene (37) en Maxwell (36), dat hy glo agter ’n bal aangehardloop het toe hy weggewyk het van ’n groter groep familielede en, sonder dat enigiemand agterkom, hom na bewering in ’n afgesonderde gebied bevind het, waar hy vermoedelik in die swembad geval het. Só is die paartjie meegedeel nadat hulle voor 11:00 dié noodlottige oggend met ’n oproep na die toneel ontbied is. “Ek is gebel en ingelig dat MJ in die swembad geval het en dat ek moet sorg dat ek daar uitkom. Ek het my vrou gebel, van die werk af gery om haar by die huis te gaan haal, en ons is reguit soontoe. Toe ons by die toneel aankom, het sy lewelose liggaampie langs die swembad gelê,” verduidelik Maxwell.

Volgens die egpaar was hulle nie teenwoordig toe die noodlot tref nie. Julene, wat as ’n verpleegster werk, het daardie oggend van nagskof gekom. Maxwell het sy 56-jarige skoonma en kinders omstreeks 08:00 by die landgoed gaan aflaai voordat hy gaan werk het. Hul middelste seun (12) het slegs ’n paar uur daarna glo op sy broertjie, waar hy in die swembad gelê het, afgekom. Die egpaar het Maandagoggend hul geliefde seuntjie se lyk gaan uitken. Berading word vir die gesin gereël.

Hoewel hulle ’n hartverskeurende werklikheid in die oë staar, sê die ouers hulle blameer niemand vir die tragiese verlies van hul kosbare seuntjie nie. Hulle doen egter ’n beroep op ander ouers om voorkeur aan hul kinders se veiligheid te gee – veral met die warm somerweer wat uitstappies na swembaddens en strande aanspoor.

“Dis moeilik om die verlies, wat so onwerklik voel, te verwerk. Ek hoop steeds dat hy ’n verskyning sal maak,” sê die hartseer ma van drie seuns terwyl sy teen die trane veg.

’n Woordvoerder van die landgoed het innige meegevoel met die bedroefde familie betuig. “Ons verstaan ??dat die verlies van ’n kind een van die seerste ervarings is waardeur ’n ouer kan gaan, en ons is opreg jammer vir jul pyn en lyding. Aanvaar asseblief ons innige simpatie. Ons wens julle vrede, vertroosting, moed en baie liefde toe in hierdie tyd van hartseer. Ons harte gaan uit na julle in hierdie moeilike tyd.”

Vir die Williams-gesin laat die verlies van MJ ’n groot leemte, want “nes sy stem ewig stilgeword het, het ons huis ook stil geword”.

“MJ was ’n liefdevolle kind wat vreugde in ons huis gebring het,” sê Julene.

“Ons het uitgesien na sy skoolkonsert op 15 Desember en hom in sy Krismis-klere te sien pronk.”

Maxwell voer aan dat MJ in die twee kort jaar wat hy aan hulle geskenk is werklik voluit gelewe het. Die klein seëning het onuitwisbare spore in die hart van ander getrap, ’n groot impak gemaak by Bright Minds-kleuterskool, waar hy ’n gelukkige toevoeging was en familiebande met sy Godgegewe unieke wese en volmaaktheid help herstel.

’n Begrafnisdiens word vir Saterdag gereël. ’n Diens by kerslig word Donderdagaand (30 November) buite Storkstraat 24 gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article