Hannalie van der Merwe, ’n onderwyser aan die Hoërskool Strand, is in Oktober as die vakbond Solidariteit se onderwyser van die jaar in die hoërskoolafdeling aangewys.
Die prys is ’n enorme eer vir die Hoërskool Strand en die plaaslike gemeenskap, en beklemtoon die feit dat dié skool vir sy leerders omgee.
Solidariteit volg die Christelike tradisie van die vakbondwese wat glo dat hulle hul lede tot selfstandigheid moet lei, sodat hulle hul roeping kan navolg. Dit is juis wat Van der Merwe, wat sedert 2000 ’n gewaardeerde onderwyser by HS is, vermag het: Sy het haar roeping gevolg om ’n verskil in mense se lewe te maak. Die status van ’n onderwyser lê in ’n kind se hart – ’n waarheid wat Van der Merwe alte goed begryp.
Sy is in die Junie-skoolvakansie deur die skool se toutrek-ouers en -leerders vir hierdie gesogte toekenning benoem. Veral die Westelike Provinsie se president van die toutrekvereniging was baie opgewonde oor dié benoeming. Danie Malan, die HS-skoolhoof, het Van der Merwe ook aangemoedig om die benoeming te aanvaar.
Ná die aanvaarding van die benoeming moes sy ’n outobiografie skryf asook ’n video maak waarin sy op die volgende moes fokus – waarom sy haar in die onderwys bevind, wat sy die meeste in die onderwys geniet en wenke vir nuwe onderwysers.
Van der Merwe se filosofie is eenvoudig: Sy doen maar net haar werk. Elkeen wat sy of haar werk doen, én dit met liefde doen, is ’n held of heldin. “Alles is net onverdiende genade uit God se liefdevolle hand,” sê die beskeie onnie.




