Strand het die afgelope paar maande ’n skerp styging in voertuie wat gesteel word, ervaar.
Volgens Philip Versfeld van die Strand-buurtwag is daar in Junie alleen agt voertuie in Strand gesteel, en in Julie het dit tot 13 gestyg.
Die Strand-polisie kon nie bevestig hoeveel voertuie is gesteel gedurende Junie en Julie nie, maar wel dat motordiefstal in die laaste tyd toeneem.
Die buurtwag bevestig die diefstalle vind gedurende verskillende tye van die dag plaas, maar meer as die helfte van die voorvalle was ná 19:00.
“Die gesteelde voertuie verlaat dadelik die Strand en word dan óf na ’n ‘chop-shop’ geneem óf gebruik om ander misdade mee te pleeg,” sê Versfeld.
Hy sê motordiewe is nie plaaslike opportuniste nie, maar deel van ’n sindikaat wat oor die Wes-Kaap heen bedrywig is.
Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, bevestig motordiefstal is aan die toeneem.
“Motoreienaars moet seker maak dat hulle hul voertuie reg sluit. Ons kom agter in sekere gevalle gebruik misdadigers toestelle wat motors se afstandbeheerders blokkeer en verhinder dat ’n motor so sluit. Motoreienaars moet minder op hul voertuie se tegnologie steun en self seker maak die voertuie is wel gesluit,” waarsku Beukes.
Versfeld voeg by inligting rakende die modus operandi van die misdadigers word gereeld deur die buurtwag, polisie en al die ander betrokke rolspelers bespreek. “Dit beteken ons kan dalk binnekort ’n einde aan die huidige vlaag motordiefstal verwag,” sluit hy af.


